Shimlas nader aan halfeindrondte

0
409
Die Shimlas se losskakel, George Lourens, was vir 'n tweede agtereenvolgende kragmeting aangewys as die speler van die wedstryd. FOTO: ASEM ENGAGE

Die Universiteit van die Vrystaat Shimlas is een tree nader aan die halfeindrondte van die 2022 Varsitybeker.Maandag moes die manne in koningsblou truie hard werk vir ‘n 37-26 oorwinning teen die Universiteit van Johannesburg in die Goudstad.

Op ‘n stadium in die kragmeting was die Shimlas diep in die moeilikheid, maar koelkoppe en ‘n uitstaande aanvallende tweede helfte het daartoe gelei dat die span van Bloemfontein koning gekraai het met ‘n bonuspunt in die bank.

Die Shimlas het wel eerskomende Maandag nog ‘n groot uitdaging wanneer hulle met die verdedigende kampioene, die Universiteit van Pretoria Tuks, in die Rosestad swaarde kruis.
‘n Sege in die kragmeting sal vir die Shimlas hul plek in die halfeindrondte bespreek, maar die doelwit sal wees om dié kragmeting op tuisbodem te speel.

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Ixias het op hulle beurt weereens vasgeval, en die keer was dit teen die Universiteit van die Wes-Kaapland in Bellville. Die span van die Kaap het met 44-38 geseëvier. Die Bloemfonteiners kon egter daarin slaag om twee bonuspunte uit die wedstryd te kry, en dit was baie belangrik aangesien verlede jaar en vanjaar se puntelere gekombineer sal word om te bepaal watter spanne gerelegeer sal word. Die Ixias se uitstaande 2021 veldtog kan wel nog tot hulle redding kom en ‘n mens kan net hoop dat die span Maandagaand in Bloemfontein die Noordwes-Universiteit Arende met nuwe geesdrif sal aanpak.

Albei Maandagaand se wedstryde sal om 19:00 afskop, en die kragmeting op Shimlapark tussen die Shimlas en Tuks word regstreeks uitgesaai. – MORGAN PIEK