Shimlas maak harte oop vir boere

0
134
Die Shimlas-rugbyspan wil boere in nood help met die droogte wat tans ervaar word.

Die rugbyspan van die Universiteit van die Vrystaat wys dat hulle nie net goeie rugby kan speel nie, maar ook harte van goud het.

Die Shimlas pak tans hul eie droogtehulpprogram, die Drought Relief Project #Shimlas4Relief, aan vir die 2019-Varsity-beker-seisoen.

“Die inisiatief is om droogtegeteisterde gebiede in die Vrystaat te help, of dit is deur water te skenk aan mense wat nie het nie of voer vir die boere wat so swaarkry as gevolg van die droogte,” het Bertie de Bod, organiseerder van die projek, gesê.

Die Shimlas werk ook saam Burre Burger wat reeds hulp verleen aan droogtegeteisterde gebiede. “Hy het reeds die kennis en die kontakte vir die vervoer en dit wat mense broodnodig het.”

As jy graag by die inisiatief betrokke wil raak, kan jy die Shimlas-span borg vir elke drie wat hulle tydens die Varsitybeker druk. Jy kan dan besluit om dalk 5 liter-water per drie te borg, of ‘n sak voer vir die diere. “Dit is ook goeie motivering vir die ouens in die span, want dan weet hulle hoe meer drieë hulle druk, hoe meer geld of produkte samel hulle in,” het De Bod verduidelik.

Daar is ook op 22 April ‘n gholfdag teen R1 120 vir ‘n vierbal. As persone ‘n putjie wil borg, kos dit R2 000. Die persoon of besigheid kan dan sy besigheid adverteer en sy produkte uitstal.

As jy ‘n verskil wil maak, kontak De Bod by 082-063-9493 of vir Henk by 071-896-9800. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za