Shimlas gee vir Maties pakslae

0
1007
Die Shimlas se reserwe-skrumskakel, Jandré Nel, oppad doellyn toe in die doodsnikke van die Varsitybeker-kragmeting teen die Maties. Nel se drie het die Shimlas se vyftigtal laat gebeur. FOTO: ASEM ENGAGE/ HANNES NAUDE

Die Universiteit van die Vrystaat Shimlas het hulself as vroeë gunstelinge gevestig in die 2022 Varsitybeker na ‘n tweede agtereenvolgende oortuigende sege in die toernooi. Dié keer het die Shimlas nog ‘n bonus verdien toe hulle die vyfmalige kampioene, die Universiteit van Stellenbosch Maties, met 50-28 op Shimla Park getroef het.

Die woelige Shimlas flank, Thabo Ndimande, was die ster gewees vir die tuisspan deurdat hy ‘n driekuns van drieë gedruk het om sy span tot die uitstaande sege te help.
Die oorwinning was meer merkwaardig vir die Shimlas aangesien dit die eerste keer in sewe jaar was dat hulle met die span van die Eikestad kon afreken en om dit met ‘n vyftigtal te kom doen het ‘n sterk boodskap aan die ander spanne uitgestuur.

Daar is in Suid-Afrikaanse rugby ‘n gesegde, ‘Die Curriebeker word nie in die tweede week gewen nie’, en dit is beslis ook die geval met die Varsitybeker. ‘n Week in rugby is ‘n baie lang tyd, maar die feit is dat die Shimlas ‘n sterk begin tot die toernooi gemaak het as ‘n mens in ag neem dat die Bloemfonteiners verlede week in Bellville die Universiteit van die Wes-Kaapland met 56-16 afgestof het.

Die Shimlas het met ‘n hoë intensiteit gespeel, en dit was iets wat in 2015 laas gesien is toe die spanne in die koningsblou-truie die Varsitybeker vir die eerste en enigste keer omhoog gehou het.

Die kaptein van die Shimlas, Thabang Mahlasi, het gesê dat die intensiteit deel is van hul plan, en alles begin in plek val.

“Ons het lanklaas vir Maties geklop,” het die slot aan Bloemfontein Courant gesê.

“Die manne het geweet dat ons vir die wedstryd moes opdaag en dit was ‘n groot wedstryd vir ons, want dit was tuis en voor die Shimlas-ondersteuners.

“Ons moes dit ook vir onsself doen en vorentoe moet ons net nederig bly en aanhou hard werk. Die intensiteit is deel van ons wedstrydplan en met die stelsels wat ons in plek het, moet dit teen ‘n hoë intensiteit gebeur. Die manne het by die sisteme gehou en alles het net in plek geval.”

Intussen het die Sentrale Universiteit van Tegnologie Ixias in Johannesburg met 20-18 teen die Universiteit van die Witwatersrand vasgeval. Wits het in die doodsnikke van die kragmeting oor die doellyn gaan kuier vir die wendrie.

Verlede week is daar berig dat die Ixias in die eerste rondte teen die Universiteit van Johannesburg met 44-42 vasgeval het. Dié uitslag is verander na ‘n appél deur die Ixias aangesien een van hullle drieë as ‘n vyfpunt drie toegeken is. Beeldmaterial het aangetoon dat dié drie wel ‘n sewe punt was en die Varsitybeker sowel as SA Rugby het die uitslag na 44-44 elk verander.

Maandagaand sal die Ixias op CUT-park teen die Shimlas te staan kom in die jaarlikse Bloemfontein-buurstryd. Shimlas het in die vorige drie kragmetings teen hul stadsbure vasgeval.

Maandag se groot buurstryd in die Rosestad skop om 17:00 af en sal uitgesaai word. – MORGAN PIEK