Shimlas en Ixias val vas

0
454
Madibaz t. CUT Ixias FOTO: ASEM ENGAGE

Die Universiteit van die Vrystaat Shimlas sal dié komende Maandagaand sake wil regstel wanneer hulle vir die Noordwes Universiteit Eagles die stryd aansê in rondte vyf van die Varsitybeker.

Die afgelope week het die Shimlas vasgeval vir die eerste keer vanjaar met ‘n skok 53-31 nederlaag teen die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.

Wits het Maandagaand puik rugby gespeel en hulle was op die aand by verre die beter span op die veld gewees. Ten spyte van ‘n goeie terugveg-poging deur die span van Bloemfontein het die tuisspan die oorhand oor die besoekers gekry.

Die Shimlas se losvoorspeler, Ruwald van der Merwe, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle sake sal regstel.

“Ons het onsself regtig in die steek gelaat,” het die groot baldraer gesê.

“Dit was net een van daardie aande waar niks gevoel het of dit ons kant toe gaan nie. Wits het regtig gekom met alles wat hulle gehad het in die eerste helfte en ons dadelik op die agtervoet geplaas. Van daar af was dit vir ons ‘n geval van oorlewing. Ons het nooit moed opgegee nie, maar dit was ‘n bietjie laat om in die tweede helfte die wedstryd te begin jaag. Maar ons het geleer en ons sal sake regstel. Hou hierdie spasie dop.”

Die Shimlas is egter nog die pasaangeërs in die toernooi en hulle wedstryde oor die volgende paar weke in Bloemfontein teen die Eagles, Ikeys en Tuks sal baie belangrik wees aangesien daar geen meer ruimte vir glipse is nie.

Intussen het die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se swak seisoen voortgeduur met nog ‘n nederlaag. Hulle het met ‘n 36-26 nederlaag teen die Madibaz in die Baai vasgeval. Vir die span van Gqerberha was dit hul eerste oorwinning in die Varsitybeker in bykans twee jaar, of 12 wedstryde.

Die Ixias en Cheetahs-skrumskakel, Zinedine Booysen, sê die tyd om harde vrae te vra het aangebreek.

“Die Madibaz het met ‘n massiewe tempo begin en hulle het ons van die begin af onder druk geplaas. Ons het net te laat ingeskop; ek dink eerlikwaar ons het te laat in die wedstryd gekom. Dit is ‘n derde agtereenvolgende nederlaag vir ons en as in ag geneem word dat daar hierdie seisoen relegasie gaan wees, sal ons diep moet kyk na wat in ons kamp aangaan. Ons sal beslis terugveg.”

Maandagaand om 19:00 pak die Shimlas die Eagles op Shimlapark, terwyl die Ixias vir Maties die stryd sal aansê op CUT-park. – MORGAN PIEK