Shimlas en Irawas keil mekaar op rugbyveld op

0
840

GEORG VAN ECK
Beserings, wat die twee rugbyspanne van die Universiteit van die Vrystaat kan knou, het die Shimlas en Irawas in hul Stadsbeker-wedstryd in die Vrystaat op Shimlapark in Bloemfontein bloots gery.

Verskeie spelers moes met beserings van die veld af en selfs van die plaasvervangers is beseer. Shimlas het die wedstryd, wat as ’n oefenwedstryd beskou kan word, 53-28 gewen nadat hulle rustyd 24-7 voor was.

Shimlas het reeds na die eindronde om die Stadsbeker deurgedring, terwyl Irawas sake in die halfeindronde van die Stadsbeker-kompetisie teen Ixias van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie sal uitspook.

Met nuwe senterpare, voorrye, slotpare en verskeie nuwelinge in albei spanne kon die afrigtingspan dalk die diepte van die twee spanne gemeet het. Vir die res was die wedstryd nie van veel waarde nie.

Tog was daar spelers wat hul merk gemaak het. Spoed Smith het vir die Shimlas op senter goed gespeel totdat hy met ’n besering van die veld af is, die buite-agterspelers, Quintin Norris, Jannie Strumpher en Marco Mason, het ook regmerkies agter hul name gekry. Voor was dit die losvoorspelers en voorrymanne wat vir die Shimlas ’n barshou gespeel het. Veral die haker Marco Klopper het sy teenstanders laat bontstaan.

Twee plaasvervangers vir die Shimlas het sommer met die intrapslag ‘n impak gemaak. Die Vrystaatse haker, Elandré Huggett, wat as losvoorspeler ingespan is en Beyers Louw, wat heelagter gespeel het.
Ongelukkig moes Huggett ook later weer die veld met ’n besering verlaat. Louw het gewis slaankrag aan die Shimlas se agterlyn gegee en kanse vir sy spanmaats geskep. Daarby het hy ook ’n gevaarlike skopskoen.

Irawas was ook erg uitgedun, maar het het oudergewoonte hardnekkig weerstand gebied. Dit was veral die twee losvoorspelers, Wahl Vorster en Erik de Vos, wat met mening ingeklim het.
In die agterlyn het Totius van Zyl op senter sy speelkans baie goed gebruik, terwyl Jonathan le Riche (losskakel) en Erick Colyn (binnesenter) ook goed gevaar het.

Punte:
Shimlas 53 (24). Drieë: Jannie Strumpher (3), Spoed Smith (2), Marco Mason, Henco Greyling, Marco Klopper, Johan Peens. Doel: Franna du Toit (3), Beyers Louw. Irawas 25 (7). Drieë: Erik de Vos (2), Wahl Vorster (2). Doel: Sheldon Erasmus (4).