GEORG VAN ECK
Die Shimlas begin hul 2014 aanslag op die gesogte FNB Varsitybeker Maandag om 19:00 op Shimlapark met ’n kern van gesoute spelers, maar ook verskeie nuwelinge in sleutelposisies teen Wits in Bloemfontein.
Shimlas se afrigtingspan, Michael Horak, Hendro Scholtz en Barry Goodes, sal beter as die afgelope twee seisoene wil vaar deur minstens die halfeindronde van die reeks te haal.
Shimlas, wat reeds in oefenwedstryde teen Universiteit Johannesburg op Kroonstad en ook teen die Toyota Cheetahs in Bloemfontein in aksie was, het die hoop daarvoor laat opvlam.
Teen UJ het die Shimlas ’n klinkende sege van 38-0 behaal, terwyl die studente ook hul man teen die Cheetahs gestaan het. Shimlas het wel 66-19 verloor, maar gewys dat daar met hul vasberadenheid, skrums en verdediging min skeel.
Oefenwedstryde is egter nie die ware Jakob nie en die werklike toets is eers wanneer die Shimlas die besoekers van Gauteng die stryd aansê.
Dit gaan baie interessant wees om te sien hoe die nuweling-losskakel/heelagter Gouws Prinsloo ingespan gaan word. Kan hy aan die Shimlas daardie bykomende slaankrag, wat verlede jaar ontbreek het, gee?
Die rol van die jong voorrymanne, Luan de Bruyn, Jacques du Toit en Rudolf Botha kan belangrik in tandem met die hardebaarde Elandré Huggett, Nick Schonert, Franco van der Merwe, Fanie van der Walt, Armandt Koster, Johan van der Hoogt en Neil Claassen wees.
Dit is egter die agterlyn-kominasies wat deurslaggewend gaan wees. Verlede jaar was daar ’n gebrek aan flair en slaankrag agter. Daar is talle gesoute en talentvolle spelers soos Robbie van Schalkwyk, Franna du Toit, André van der Walt, Marco Mason, AJ Coetzen, Joubert Engelbrecht en Divandre Strydom, maar hulle moet reg gebruik word om doeltreffend te wees.
Maandag se wedstryd om 19:00 is dus vir die spelers, breiers en die span van groot belang.
•Die FNB Varsityreekse duur van 3 Februarie tot 7 April. Die ander twee spanne van die Universiteit van die Vrystaat, Young Guns van Kovsies en Heimat in die Steinhoff-koshuisreeks, sal oor dieselfde tydperk in askie wees. georg@centralmediagroup.co.za