Shebe klee dalk gou nuwe Mej. SA

0
646
Gerhardt Shebe tydens die Women360-geleentheid

Die Bloemfonteinse ontwerper, Gerhardt Shebe, is onlangs vir die sesde keer as wenner van ‘n modeweek aangewys, en asof dit nie genoeg is nie, het hy ‘n baie opwindende Meimaand wat vir hom voorlê.
Shebe gaan op 5 Mei op die Africa Haute Couture Uganda saam met nege ander ontwerpers op ‘n bekendstellingstoer. Hulle sal lande soos Uganda, Botswana, Ethiopië, Ghana, Nigerië, Egipte en die Ivoorkus besoek om meer oor ander modes te leer en terselfdertyd blootstelling te gee aan hul eie modes.
Shebe het ook ‘n week of twee gelede aan die Women360, wat deel vorm van die Mej. Suid-Afrika-streeksbeoordeling, deelgeneem en is as een van ses ontwerpers in Suid-Afrika gekies wat Mej. Suid-Afrika gedurende die jaar wat sy die kroon dra, sal klee. Dit is te sê mits sy ‘n wenner van Kaapstad se oudisies is. Die kroning van die nuwe Mej. Suid-Afrika vind in Mei plaas.
Shebe meen hy het goeie komplimente van verskeie beoordelaars gekry en hy was heel in sy noppies. Demi-Leigh Nel Pieters, Mejuffrou Heelal, se kompliment het vir hom baie beteken.
“Die Mej. SA-kompetisie is al vir sewe jaar my droom, en nou word die droom waar,” vertel Shebe.
“Ek sien baie uit na die jaar wat voorlê. Meimaand gaan besig wees, maar ek is so geseën met wat ek doen en wat ek alles bereik. Daar is nog ‘n paar bekende modeweke wat voorlê, maar julle gaan moet wag om te sien wat dit is.”

JERETHA OOSTHUIZEN 
jeretha@mahareng.co.za