Sewe Damme: verkoop van grond kwel

0
948
Die Sewe Damme-bewarea is 'n tuiste vir bedreigde diere-, insek-, reptiel-, voël- en plantlewe.

Die Vriende van Sewe Damme-bewareagroep verwelkom die ondersteuning van inwoners om residensiële ontwikkeling in die bewaringsgebied in Lilyvale te keer. Dit nadat ‘n petisie vir die aandag van die Minister van Water en Omgewingsake begin is.

Volgens die voorsitter van die bewaringsliggaam, Jo Hiemstra, is die reaksie van Bloemfontein-inwoners positief en wys dit dat hulle omgee vir die Mangaung-omgewing. “Ons staan verstom oor die geweldige ondersteuning uit die gemeenskap en die onsteltenis wat reflekteer word in die aksies en reaksies wat ons tot dusver ontvang het,” sê Hiemstra. “Die petisie het tans meer as 1800 uit 2000 handtekeninge wat nodig is om dit aan die minister en die Mangaung Metro-munnisipaliteit voor te lê.”

Die Bewarea is die tuiste van unieke plantlewe sowel as diere, insluitend 120 voëlspesies. “Die gebied is uniek tot die groter Bloemfonteinarea. Die hele bewarea bestaan uit kritiek-bedreigde spesies en uit ‘n omgewingsstandpunt kan dit nie geregverdig word nie,” maak Hiemstra beswaar. Die gebied bestaan uit vier bepaalde habitat, insluitend bosryke fynbos, grasland, vleiland en die unieke Bloemfonteinse Karroid-bos.

Die petisie doen ‘n beroep dat die bewarea ‘n nasionale park word en geensins beskikbaar te wees vir verkoop of ontwikkeling nie. Die gebied word ook gebruik deur inwoners vir ontspanningsaktiwiteite soos staproetes en pieknieks. Volgens Hiemstra het die metro ‘n groot gedeelte grond verkoop vir ontwikkeling sonder publieke deelname. “As hulle hulle nie steur aan die besware van die gemeenskap nie, sal ons die besluit verder neem om te sien of dit geregverdig is,” sê hy. “Die grond behoort aan die munisipaliteit en dié het dit verkoop vir ontwikkeling, wat beteken daar gaan weer ry op ry meenthuise verskyn,” voeg Hiemstra by.

Uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli, het gesê dat openbare deelname van die uiterste belang is. “Openbare deelname is baie belangrik. Of die gemeenskap kwaad of gelukkig is, dit bly ons verantwoordelikheid om terug te gaan na hulle en uit te vind met watter kwessies hulle ‘n probleem het,” sê Mlamleli.

Die Vriende van Sewe Damme-bewarea is ook gekant teen ‘n kennisgewing deur die stads- en streeksbeplanningskonsultasiefirma, Urban Dynamics Free State Inc in Desember 2018. Die organisasie beweer dat die firma doelbewus die kennisgewing om openbare deelneme opgerig het op ‘n ongeleë tyd. Dit is egter deur Urban Dynamics se Leon Ehler weerlê. “Dit was nie intensioneel geadverteer op daardie tydstip om mense te verhoed om beswaar te maak nie. Dit is ‘n vals stelling,” sê Ehler. Die petisie kan gevind word op www.vuma.earth. – Nomaqhawe Mtebele
nomaqhawe@mahareng.co.za