‘Sesde Sintuig’ vertel ‘n liefdesverhaal

0
115
Gerduan Kemp

Gewilde Bloemfonteinse musikant en liedjieskrywer, Gerduan Kemp, stel na ‘n hele paar maande eersdaags sy nuwe enkelsnit, “Sesde Sintuig”, vry. Hy is terug, beter as ooit.

Die 23-jarige kunstenaar, wat bekend is vir sy diep stem, se nuwe liedjie gaan oor die opwinding van verlief-wees en hoe die liefde eintlik soos ‘n ekstra sintuig kan wees. “Sesde Sintuig” vertel die storie van hoe die liefde jou soms van die werklikheid kan laat vergeet en jou in staat stel om jou te distansieer van die harsteer van die verlede.

Die liedjie het ‘n moderne “pop”-aanslag en is deur Johan Oberholzer geskryf. Dit word op Vrydag 16 Oktober 2020 vrygestel. Volgens Kemp hou baie van sy musiek ‘n dieper betekenis in en sy liedjies word geïnspireer deur gebeure uit sy eie lewe of uit die lewe van diegene na aan hom.

“Ek streef altyd daarna om ‘n storie met my liedjies te vertel, maar ook om dit op só ‘n manier te skryf dat almal hul daarmee kan vereenselwig,” vertel Kemp.

Met die vrystelling van “Sesde Sintuig” stel hy nie net een van sy grootste vaardighede ten toon nie, maar bewys hy weer eens dat daar voorwaar ‘n baie belowende toekoms op hom wag in die musiekbedryf.

Kemp se splinternuwe enkelsnit sal beskikbaar wees op alle digitale platforms. Vir meer, volg hom op Facebook en Instagram @Gerduan_Kemp.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za