Ses vermeende kapers in Bloemfontein vasgetrek met groot vrag gesteelde energiedrankies

0
923

 

Ses verdagtes sal binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn weens die besit van beweerde gesteelde goedere en ‘n vragmotor. Polisiewoordvoerder, Peter Kareli, sê lede van die plaaslike polisie se intellegensie-eenheid en die blitspatrollie het gister inligting ontvang dat ‘n vragmotor, wat Maandag omstreeks 22:00 in Umbilo in KwaZulu-Natal gekaap is, onderweg na Bloemfontein is. Die vragmotor het twee groot vraghouers vol blikkies energiedrankies, wat oor die land heen afgelewer moes word, vervoer. Kareli sê die waarde van dié vrag is sowat R2 miljoen.

Die wit vragmotor van ‘n vervoermaatskappy is by bergingsgeriewe, wat aan die publiek verhuur word, in Estoire in die stad gesien. Ses mans het ‘n vrag blikkies afgelaai met die polisie se aankoms op die toneel. Hulle het weggehardloop, maar lede van die Blitspatrollie het daarin geslaag om al ses aan te keer. Kareli sê die polisie het ook op ‘n gehuurde bergingseenheid vol beweerde gesteelde skoene afgekom. In ‘n ander vertrek is op parfuum beslag gelê, wat glo ook gesteel is. Die waarde van die skoene en parfuum beloop R4 miljoen.

Kareli sê twee van die verdagtes is van Zimbabwe, terwyl twee van Lesotho afkomstig is. Die ander twee verdagtes is onderskeidelik van Suid-Afrika en Ethiopië. Volgens hom sal die verdagtes ook in KwaZulu-Natal in die hof verskyn op ‘n aanklag van kaping.  – Christal-Lize Muller