Na goedkeuring deur die rektoraat, senaat en raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV), het die Vrystaat-sentrum vir Menseregte (VSMR) onder leiding van prof. Leon Wessels, stigterslid van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK), as die waarnemende direkteur van die sentrum, op 1 Januarie 2016 met sy bedrywighede op die Bloemfontein-kampus begin.
Menseregte is ongetwyfeld steeds die oorheersende morele en politieke taal van ons tyd en verg dus veelvlakkige vakkundige betrokkenheid, aangesien dit nasionale en internasionale verhoudinge beïnvloed en standaarde stel vir politieke en demokratiese praktyk.
Bo-aan die sentrum se lys van werksaamhede is die afhandeling van die debat met die SAMRK met betrekking tot die Februarie 2011 post-Reitz-ooreenkoms met die UV, wat later ’n bevel van die Gelykheidshof gemaak is. Hierdie bevel het die UV verplig om so ’n sentrum te vestig. Die VSMR bied nuwe geleenthede vir samewerking tussen die VSMR, die SAMRK en ander belanghebbendes tot voordeel van die UV en die groter gemeenskap.
Die sentrum bestaan uit drie onderling verwante afdelings wat die potensiaal het om kritiese vakkundigheid op die gebied van menseregte deur middel van sy nagraadse en navorsingsafdeling te stimuleer. Dit word weerspieël in die sentrum se missie om die bestudering van menseregte te verdiep en om sy praktyk te bevorder deur nuwe metodes te ontwikkel waarin tradisionele menseregtekwessies deur interdissiplinêre en multidissiplinêre benaderings aangevul kan word.
Die Voorspraak-afdeling van die sentrum sal menseregte onder UV-personeel en -studente, asook onder die omliggende gemeenskap, bevorder. Die doel is om ’n dinamiese menseregtekultuur op en oor alle kampusse heen te vestig, waar die regte van almal gerespekteer en beskerm word.
Die Regsdienste-afdeling sal betroubare regsdienste aan individue en groepe verskaf wie se grondwetlike regte geskend is, ten einde die professionele kapasiteit van regsassistente, studente, beraders, maatskaplike werkers, kandidaatprokureurs en prokureurs te verbeter, deur hulle toe te rus om sake met betrekking tot die skending van grondwetlike en menseregte te hanteer en om toegang tot die reg aan landelike en behoeftige gemeenskappe in die Vrystaat te verhoog.
Die sentrum, met sy inter- en multidissiplinêre benadering, het die potensiaal om een van die vlagskipprojekte van die UV te word en sal sowel die Akademiese as Menslike Projek versterk. ’n UV-menseregtesentrum maak nie net wetenskaplik en prakties perfekte sin nie, maar het ook grenslose simboliese waarde. Die ligging op een van die UV se kampusse in die stad Bloemfontein (die regterlike hoofstad van Suid-Afrika) en die feit dat daar samewerking was met die Nasionale Universiteit van Lesotho (NUL), is histories en geografies betekenisvol. Dit het ’n groot impak op die UV, die Vrystaat as provinsie, asook op die Koninkryk van Lesotho.
Die VSMR sal op 14 Maart 2017 amptelik bekendgestel word, met professor Bongani Majola, nuutverkose voorsitter van die SAMRK, as gasspreker.
Vir meer inligting oor die sentrum se werk, kontak gerus FSCHR@ufs.ac.za/051-401-7216.