Sentraal bied dinamiese skoolomgewing

0
Sentraal bied dinamiese skoolomgewing

Die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein is ’n hoëprofiel gebalanseerde opvoedkundige instelling met ’n sterk Christelike karakter wat jongmense oplei om waardige en diensbare landsburgers te wees. Sentraal is vanjaar 108 jaar oud en hoëgehalte akademiese onderrig vorm steeds die kernbesigheid van hierdie instelling oor meer as ’n eeu.

Enersyds is dit ’n uitsonderlike voorreg om aan hierdie kosbare skoolgemeenskap verbonde te wees en andersyds is dit ’n groot verantwoordelikheid omdat Sentraal ’n beduidende rol in die onderwys en die breë gemeenskap vervul. Sentraal dien sy gemeenskap en het nog nooit vir hierdie verantwoordelikheid teruggedeins nie.

Hoogtepunte van 2012 sluit in:
Die matriekklas van 2012 se slaagsyfer was 98% met twee kandidate onder die toppresteerders in die Vrystaat. Die top 10-akademiese presteerders in hierdie klas het almal meer as 5 A-simbole in die Nasionale Senior Sertifikaateksamen behaal. Talle leerders het ook uitmuntend presteer in Wiskunde- en Wetenskap-olimpiades. Die feit dat Sentraal ’n oop vakkeuse het, maak dit vir leerders baie aantreklik om Sentraal as ’n voorkeurskool vir sekondêre onderrig te oorweeg. Die oop vakkeuse bring mee dat ’n leerder sy/haar vakpakket volgens belangstelling en aanleg kan kies.

Op kultuurgebied het Sentraal se leerders uitgeblink. Die Sentraal Musiek Akademie is tans die grootste musiekakademie in die Vrystaat en onder leiding van mnr. Hans Potgieter (hoof van die SMA), word talle optredes vanjaar beplan met al meer musici wat aandui dat hulle by die SMA wil aansluit. Sentraal se amptelike skoolkoerant, die Tralie Varia het in 2012 vir die tweede agtereenvolgende jaar die toekenning ontvang as die tweede beste skoolkoerant in Suid-Afrika in Media24 se Nasionale Skoolkoerantkompetisie. Dr. Monica Venter en Xina Liebenberg (redakteur) was in beheer van dié interessante skoolkoerant.
Op sportgebied was indrukwekkende prestasies aan die orde van die dag.

Die eerste netbalspan se sesde agtereenvolgende verowering van die Vrystaattrofee, asook die verowering van talle ander netbal- en rugbyligas bevestig dit. Uitstekende prestasies is ook deur Sentraal se atlete, hokkiespelers, krieketspelers, swemmers, tennispelers en skuts gelewer en 92 van Sentraal se sportpresteerders het die Vrystaat in sportsoorte binne skoolverband verteenwoordig.
Die tradisie van voortreflikheid duur voort!

No posts to display