Sekekete dankbaar vir die geleentheid

0
1068
Die voormalige Junior Springbok, Victor Sekekete, warm op voor die oefendwedstryd tussen die Toyota Cheetahs en Griekwas vroeër vanjaar in Bloemfontein. FOTO: MORGAN PIEK

Die nuwe werwings het by die Toyota Cheetahs aangemeld vir diens voor hul belangrike SuperRugby Unlocked-kragmeting Vrydagaand teen die Haaie.

Die losvoorspeler, Jeandré Rudolph, het van die Pumas af aangesluit, terwyl die slotte, Victor Sekekete en Ian Groenewald, van die Griekwas af verhuis het na Bloemfontein.

Die voormalige Junior Springbok, Sekekete, het aan Bloemfontein Courant gesê dat sy besluit om verlede jaar by die Griekwas te speel daartoe gelei het dat hy nog ‘n toekoms in rugby het. “Dit is beslis ‘n geleentheid waarop ek gewag het. Dit is ‘n kans om deel te word van die rugbystyl waarvoor die Cheetahs bekend is. Die manier waarop die Cheetahs speel, is ‘n opwindende styl van rugby.

“Siende ek in Kimberley was, is ek baie dankbaar vir die geleentheid wat ek daar gehad het. As dit nie daarvoor was nie, sou ek nie raakgesien gewees het nie. Vir wat ek aan daardie kant ontvang het, is ek baie dankbaar omdat ek op die punt was om my stewels op te hang en my op werk of iets anders te konsentreer. Ek is bly dat ek die Griekwas-reis onderneem het. Dit het gelei tot die Cheetahs-hoofstuk in my lewe.”‘

Die voormalige Leeus-slot het bygevoeg dat hy bly is om saam met Groenewald na Bloemfontein te verhuis en hy sien daarna uit om die vennootskap voort te sit.

“Om saam met Ian (Groenewald) te trek is ook een van die positiewe aspekte, want hy is my slotmaat en ons het baie wedstryde saam gespeel. Persoonlik is dit vir my ‘n geleentheid om aan die Cheetahs se styl blootgestel te word. Ek het gewag op ‘n kans soos hierdie om vir almal te wys wat ek kan doen.”

Sekekete het die Bababokke by die IRB (nou Wêreldrugby) Junior Wêreldkampioenskap in 2014 in Nieu-Seeland verteenwoordig, saam met spelers soos Handré Pollard, Malcolm Marx, Jesse Kriel, André Esterhuizen, Warrick Gelant Thomas du Toit en Wilco Louw. Die voormalige Cheetahs wat in dié span gespeel het, is Joseph Dweba, Zee Mkhabela, Abongile Nonkontwana, Sergeal Petersen en Lloyd Greeff, terwyl die huidige Cheetahs-losvoorspeler, Aidon Davis, steeds by die franchise is.

Die Sharks en Cheetahs sal Vrydagaand slaags raak, met die wedstryd in Durban wat om 19:00 afskop. – MORGAN PIEK