Seekatjies laat prem-babas veilig voel

0
1722
Courtney Norman, vierdejaar- verpleeg- en verloskundestudent aan die Universiteit van die Vrystaat.

Vierdejaar-verpleeg- en verloskundestudent aan die Universiteit van die Vrystaat, Courtney Norman, het met ‘n hekelprojek begin om vroeggebore babas veilig, beskermd en gemaklik te laat voel in die neonatale eenheid van die hospitaal.

Norman het aan Bloemfontein Courant vertel dat sy in ‘n artikel gelees het hoedat gehekelde seekatjies help om die omgewing van die baarmoeder vir babas na te boots. Die “tentakels” van die seekatjie kom ooreen met die naelstring en help om te keer dat die prem-baba aan die buise wat hulle verbind met apparate trek en pluk. Norman het met dié inisiatief begin omdat sy so ‘n groot liefde vir vroeggebore babas het.

Die seekatjies soos deur Courtney Norman ontwerp.

“Ek het ‘n baie sagte plekkie vir die klein ou babatjies, veral omdat hulle dikwels so getraumatiseer is deur die ervaring in die neonatale- intensiewesorgeenheid. Daar is soveel harde geluide en helder ligte waaraan hulle glad nie gewoond is nie, en hul onderontwikkelde sensoriese sisteem is dikwels in skok as gevolg van hierdie eksterne faktore. My hoofdoel is om ‘n verskil te maak in die lewe van hierdie klein ou babatjies, al is dit net ‘n klein verskil,” sê sy.

Baie ouers het al vir Norman gesê hoe spesiaal so ‘n seekatjie-geskenk vir hulle geword het. Norman het ook op sosiale media uitgereik na mense om haar te help met hierdie inisiatief. Sy voel dat mense nou in ‘n tyd van inperking meer tyd het om te help en vra dat diegene wat kan hekel hulle deel doen om sulke seekatjies vir die prem-babas te maak. “Dit sal wonderlik wees om ‘n konstante vloei van seekatjies te hê omdat daar gedurig babas is wat in die neonatale- intensiewesorgeenheid versorg word.

Dit is nou die ideale tyd om sulke seekatjies te hekel. Almal van ons het nou meer tyd. Vir elke seekatjie is net ‘n klein bietjie wol en ‘n bietjie vulsel om dit mee op te stop nodig,” het sy bygevoeg.

Norman sê dat sy in hierdie stadium besig is om hospitale te betrek by haar projek. “Ek wil graag die openbare hospitale deel maak daarvan omdat daar ‘n groot aantal prem-babas daar toegelaat word op daaglikse basis. Al die logistieke aspekte is nog in ‘n beplanningstadium. Dit is ‘n ingewikkelde proses om hospitale betrokke te kry en ‘n konstante vloei van seekatjieskenkings aan hospitale te reël sodat elke vroeggebore baba geakkommodeer kan word.”

Enige persoon wat graag die hekelpatroon wil bekom of voltooide seekatjies wil skenk en aflewer, kan ‘n e-pos stuur aan Norman by octopusforpreemies@gmail.com.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za