Seals doen super op kampioenskappe

0
456
Die swemmers het baie goed gevaar tydens die verskeie swemkampioenskappe. Voor: Mareze Frylinck, Lisa Steyn, Caileigh de Beer, Simon Gray, Lize-Mari Kruger, Miché Johns en Dané de Klerk. Agter: Jedrick Geleta, Joël Strauss, Stephan de Beer, Christiaan Kotzé en Connor le Gassick. FOTO: Jeretha Oosthuizen.

Die Super Seals, Simon Gray se swemskool, het vanjaar uitstekend op die Nasionale Swemkampioenskappe presteer. Die kampioenskappe het van 6 tot 11 April in Gqeberha plaasgevind. Die resultate spreek van Gray se slagspreuk, “Winners never quit and quitters never win”.

Die resultate sluit in verskeie persoonlike beste tye, goue medaljes, sowel as silweren bronsmedaljes.

Een van die swemmers, Lize-Mari Kruger, het by die kampioenskappe in Gqeberha 18 persoonlike beste tye behaal met die 18 items wat sy geswem het. Sy het ook vyf silwermedaljes en twee bronsmedaljes verower.

“Dit was ‘n groot voorreg om teen die land se bestes deel te neem. Dit was ‘n ongelooflike ervaring en ek is trots op my prestasies, want ek weet ek het hard gewerk. Ek is dankbaar dat ek by die beste afrigter in die land is. Ek sien daarna uit om hard te werk en volgende jaar nog beter te presteer,” sê Kruger.

Jedrick Geleta het ook goed presteer en een goud-, vier silwer- en drie bronsmedaljes behaal. “Ek het net aanhou probeer tot ek goud gewen het. Die regte houding, dissipline, en die regte afrigter het my laat wen,” sê Geleta.

Gray is baie trots op sy swemmers en op ‘n suksesvolle seisoen. “Ek is ‘n baie trotse afrigter van die gesogte Seals-familie. Dit sluit assistent-afrigters, ouers en die swemmers in. Die sukses is te danke aan die hele Seals-familie.”

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za