Scicop vergader in Bloemfontein

0
409
Johann Penning en Charles Harvey van die Scicop-organisasie FOTO: SAZLY HARTZENBERG

Daar is so baie dinge wat in die wêreld gebeur wat mens nie altyd verstaan nie, maar hier is jou kans. Bloemfonteiners word uitgenooi na die Scicop-organisasie se eerste vergadering wat by Emoya gaan plaasvind hierdie naweek.

Een van die lede, Charles Harvey, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hierdie vergaderings mense die geleentheid gee om vrae te vra oor wat in die werêld gebeur en om ingeligte menings daaroor te vorm. Die vergaderings vind regoor die land plaas en Bloemfontein gaan nou sy eie organisasie kry. Hy sê hulle fokus op verskillende onderwerpe soos astrologie, homeopatie, detoks, alternatiewe medisyne, anti-inenting, fisika en vlieënde voorwerpe (UFOs).

“Wat vir ons belangrik is by hierde vergarderings is dat mense hul menings kan ondersteun met bewyse, sodat hulle nie net met hul emosies dink nie,” sê Harvey.

Een van die ander lede, Johann Penning, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy by hierdie organisasie aangesluit het omdat hy ‘n skeptiese mens is en omdat hy glo dat ‘n mens vrae moet vra en nie alles glo wat gesê word nie.

Penning vertel dat mense nie gedwing word om ander se menings te aanvaar nie. Daar word oor dit gepraat en hulle probeer om by ‘n logiese antwoord uit te kom. Hy sê ook dat mense nie kwaad raak oor ander mense se menings nie, maar eerder luister en van mekaar leer.

Volgens hom is hierdie vergaderings daar om mense te leer dink en meer te leer oor wat om hulle aangaan. Persone wat nie deel wil wees van die besprekings nie, is welkom om net te kom luister.

Almal in die stad is welkom om hierdie Saterdag na die vergadering te kom wat om 14:00 by Emoya plaasvind. Mense word ook aangemoedig om aan te sluit by hul Facebook-blad, Scicops. “Dit is gratis. Diegene wat ‘n drankie wil geniet, moet egter self daarvoor betaal.” – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za