‘Schumacher’ weer mobiel

0
718
Johanna Kearney, inwoner van die Jean Webber-tehuis vir mense met gestremdhede, wys hier haar opgewondenheid en blydskap teenoor Bloemfonteiners wat gehelp het om 'n battery vir haar elektriese rolstoel te koop. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Nadat Bloemfontein Courant verlede week berig het oor Johanna Kearney, wie se rolstoelbattery die gees gegee het, het hulp vir haar behoorlik ingestroom.

Kearney, ‘n jarelange inwoner van Jean Webber-tehuis vir mense met gestremdhede in Bloemfontein, ly aan serebrale verlamming en kan nêrens gaan sonder haar rolstoel nie.
Marinda Kruger, bedryfsbestuurder van Jean Webber, het verlede week aan Courant vertel hoe Kearney soos ‘n wafferse Michael Schumacher rondgejaag het toe sy die eerste keer haar elektriese rolstoel gekry het Ds. Deon Potgieter, leraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk, Heidedal-Suid, wat namens Kearney geld insamel om vir haar ‘n nuwe rolstoel te koop, sê hy is behoorlik oorval deur mense wat Johanna wil help.

“Die reaksie op die berig was wonderlik! Dieselfde aand het iemand my gebel en die volgende dag R500 in die kerk se rekening betaal. Vrydagoggend het ‘n prokureursfirma gebel en R3 000 belowe. Saterdag het iemand ge-SMS. Nadat ek op die SMS geantwoord het en ‘n brief aan die persoon geskryf het, is daar Sondag R3 000 in die kerk se rekening betaal. Een van ons lidmate het ook R300 geskenk,” het ds. Potgieter aan Bloemfontein Courant vertel.

Omdat daar nou soveel aanbiedinge vir hulp ontvang is, het ds. Potgieter ‘n versoek aan die diensverskaffer gestuur om dadelik voort te gaan met die vervanging van Kearney se rolstoel-battery. Hy sê hoewel baie meer geld ingesamel is as wat benodig word vir Kearney se rolstoelbattery, gaan die res aangewend word vir ander behoeftes by die tehuis.

“Ek het aan die skenker van die R3 000 geskryf en genoem dat ons talle ander behoeftes by die tehuis het. Die skenker het ingestem dat ons die geld na goeddunke kan aanwend vir behoeftes van die groep. Ons kan dus nou ook die bydrae gebruik om vir ‘n ander inwoner, Jakob Louw, se rolstoelbande te betaal,” het ds. Potgieter gesê.

Met Bloemfontein Courant se besoek gister aan die tehuis kon Kearney nie uitgepraat raak oor die feit dat sy weer mobiel is nie. “Die eerste ding wat ek gaan doen is om kerk toe te ry. Dit was die afgelope ruk moeilik om by die kerk uit te kom omdat ek altyd iemand moes vra om my rolstoel te stoot. Ek is baie dankbaar teenoor die mense wat my gehelp om ‘n nuwe battery te bekom, omdat ek nie self een kan koop nie. Net soos wat hulle vir my omgee, gee ek ook vir hulle om,” het ‘n dankbare Kearney gesê. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za