Schools/Skole 05 August 2021: OMS-leerders haal top-10 in toneelkompetisie

0
546
Dramaleerders van die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein, (Links) Ancois Bodenstein (gr. 10) en (Regs) Kristen Fichardt (gr. 12).

Twee dramaleerders van die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein, Kristen Fichardt (gr. 12) en Ancois Bodenstein (gr. 10) bevind hulself in die top-10 van die ATKV se DigiToneelkompetisie.

Hulle en die ander agt finaliste gaan van 4 Oktober om 18:30 af in ’n splinternuwe TV-reeks van vier episodes, Gekies vir die Kollig, op Via (DStv-kanaal 147) te sien wees. Luidens ‘n persverklaring van ATKV, moes deelnemers nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe tema-wolk (kop, mondig, rebellie, sleutel, toekoms) inskryf en verfilm. Ancois Bodenstein se inskrywing was “Kop eerste-koebaai” en Kristen Fichardt s’n “Pers”.

Luidens die verklaring mag die ATKVDigiToneelkompetisie dalk nog in sy kinderskoene staan, maar sy deelnemers is afgerond en kreatief, en word nie deur die uitdagings van die samelewing ingeperk nie. Volgens die verklaring is die Top-10’s besig om vir oulaas aan hul inskrywings te skaaf.

Een van die mentors, die aktrise Lea Vivier, besing die deelnemers se lof. “Ek is trots op die deelnemers en dit is pragtig om te sien dat selfs nie ’n pandemie en streng inperkingsmaatreëls die liefde vir drama en die kunste kon blus nie.”

JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, vergelyk die gedissiplineerde en leergierige talent met sponse wat elke stukkie raad opsuig om hulself vir die bedryf te slyp.

“Ons kan met groot selfvertroue en opwinding nou aan die TV-reeks verfilm. Ek kan nie wag om die jong talent met die land te deel nie,” sê Van Niekerk.

Hy voeg by, “Hierdie top-10 se werk gee hoop vir die bedryf en is ’n bewys dat daar geen inperking van kreatiwiteit, innovasie en die liefde vir toneelspel behoort te wees nie.”

Mense moet die ATKV se webwerf en sosiale media dophou vir meer oor die TV-reeks en die kykerskeuseveldtog waar kykers vir hul gunsteling kan stem en ook ’n wegbreekvakansie by een van die ATKV se spogoorde kan wen.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za

Gold for Saint Michael’s School for Girls

Omphile Motloi, grade 2 learner of Saint Michael’s School for Girls, took gold at a Gymnastic Club Competition level 1-7.