Schoemé die kreatiewe entrepreneur

0
515
Schoemé Grobler

Schoemé Grobler se spesifieke fokus op teater vir baie jong ouderdomme en die vlam in haar hart wat brand vir kinder- en poppeteater, maak haar werk beslis iets uit die boonste rakke.
Grobler, wat haar skoolloopbaan by die Meisieskool Oranje voltooi het, kon haar uitleef deur kultuuraktiwiteite en het haar honneurs in 2016 in Drama en Teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.
Regisseur, skrywer, kunsfasiliteerder, poppemeester en akteur is paar van Grobler se spesialiteite. “Ek glo in vandag se tyd moet kunstenaars so veelsydig moontlik wees om vir hulsef werk te skep. Ek is baie geseënd om ‘n lewe te kan maak uit my passie. Ek glo dit gaan nie oor waar jy jouself bevind nie, dit gaan oor die feit dat harde werk altyd beloon word,” sê Grobler.
Haar tweedejaar van studie was ‘n absolute hoogtepunt, vertel sy aan Bloemfontein Courant. “Die eerlikheid en opregtheid van ‘n kindergehoor kan nie sommer elders gevind word nie. Hierdie eerlikheid en opregtheid bied vir kunstenaars soos myself die geleentheid om ‘n bydrae te lewer tot ‘n kind se wêreld. ‘n Kind se wêreld is oop vir speel, verbeelding en “magic.”
Volgens haar is artistieke bydrae in ‘n kind se lewe van onskatbare belang in hul groei- en leerproses. Haar maatskappy, PuppeTrix, is in 2016 begin en bied interaktiewe kinderteater, spesifiek vir die ouderdom 0-6 jaar. PuppeTrix het al by verskeie feeste en skole opgetree. Hoogtepunte sluit in ‘n benoeming vir die beste kinderteaterstuk tydens die KKNK in 2017 en ‘n spesiale ontwikkelingspryse vir haar babateaterstuk, Babah, tydens die Vrystaat Kunstefees in 2018. Volg Grobler op Facebook en Instagram vir meer inligting by PuppeTrix. – Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za