“Schoeman het aardwysheid gehad” – Fanie Viljoen

0
1432
Karel Schoeman. Beeld: Netwerk24
Die Veelbekroonde Bloemfonteinse kinder- en jeugboekskrywer, Fanie Viljoen, sê Karel Schoeman was ‘n interessante mens wat oor enigiets kon gesels.

Hy beskryf Schoeman as ‘n mens wat oor ‘n “aardswysheid” of ‘n “bonatuurlike wysheid” beskik het.

“‘n Mens kry mos partykeer mense wat verskriklik slim is, maar jy kry min mense wat wys is.” Daar was ook ‘n sagtheid aan Schoeman, wat ook ‘n soeke na “skoonheid” gehad het.

Viljoen verduidelik dat Schoeman aan die einde van ‘n wintersdag na die lug sou kyk en dan opmerk dat, daar ‘n uur aan die einde van ‘n wintersdag is wat vir hom verskriklik mooi is.

Iemand van die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein het Viljoen in 2013 aan Schoeman voorgestel. Viljoen se ouers bly in dié aftreeoord. Viljoen en Schoeman het aanvanklik “ligtelike praatjies” gemaak, maar het mekaar later beter leer ken oor ‘n koppie koffie.

Hulle het dan land en sand gesels, en het ook graag per e-pos gekommunikeer. Viljoen sê hy het nog aan die begin van die jaar van Schoeman gehoor.

Viljoen het meer aanklank by Schoeman as mens as in sy boeke gevind. Hy het ook baie raad aan Viljoen gegee oor skryfwerk al het hul genres baie verskil. “Hy het een keer gesê ‘n skrywer skryf oor die onbewuste en jy skryf met jou hart.”

Christal-Lize Muller – Courant Nuus