SAPD maan oor veiligheid by Suidpark-stortingsterrein

0
1440
volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens is misdaad aan die toeneem by die Suidpark-stortingsterrein in Bloemfontein. FOTO: MARK STEENBOK

Die polisie in Bloemfontein het ‘n streng waarskuwing aan inwoners gerig om op hulle hoede te wees wanneer hulle vullis by die Suidpark-stortingsterrein aflaai. Die polisie se luitenant-kolonel Isaac Ntsomotho sê dat daar al verskeie voorvalle van moord, aanvalle, rooftogte, dwelm- en alkoholmisbruik asook diefstal uit motors by die terrein plaasgevind het.
“Die probleem kom wanneer mense alleen vullis by die stortingsterrein kom aflaai. Wanneer hulle dan daarmee besig is, vind ons baie keer dat daar artikels uit voertuie gesteel word. Ons weet wie van die booswigte is en ons weet dat hulle soms ook hier slaap. Ons gebruik egter ook van hulle om ons oor die aktiwiteite by die terrein in te lig,” sê Ntsomotho.
Hy sê die probleem word vererger deur bendebedrywighede en verdagtes wat sonder toestemming toegang tot die gebied verkry. Ntsomotho sê dat van die bendelede gereeld in hegtenis geneem word, maar dat hulle net later terugkeer en weer mense beroof. Hy sê verlede week is ‘n vrou by die terrein in die besit van Manrax-tablette betrap, terwyl daar ook alkohol in die omgewing verkoop word.
DA-raadslid, Rossouw Botes, het vroeër gesê dat daar tydens die staking van munisipale werkers, toe mense hul eie vullis by die terrein moes gaan aflaai het, agt persone aangerand en beroof is.
Polisiewoordvoerder Ikobeng Hlubi deel ‘n paar veiligheidswenke met inwoners:
“Mense wat hulle vullis hier kom aflaai, moet ten alle koste verseker dat waardevolle artikels soos selfone, skootrekenaars en beursies veilig in die voertuig toegesluit is. Ons raai ook aan dat mense nie alleen na die gebied kom nie. Nadat mense die vullis afgelaai het, moet hulle assblief seker maak dat alles in orde is voordat hulle ry.”
Hlubi sê van die bendelede kan maklik deur die tatoeëermerke op hul arms geïdentifiseer word. Sy het ook ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om diefstalsake so gou moontlik by die polisiestasie aan te meld.
Ntsomotho sê hulle het intussen met sporadiese patrollies deur die week begin om die situasie te monitor. Die polisie het vroeër ook misdaadoperasies by die terein uitgevoer met die doel om booswigte vas te vat en misdaad in die gebied te bekamp.

MARK STEENBOK
mark@centralmediagroup.co.za