Sanger Jeanté se drome word waar

0
306
Jeanté Botha (18), wat in September haar debuutenkelsnit vrygestel het.

‘n Matriekleerder aan die Hoërskool Fichardpark, Jeanté Botha (18), het in September haar debuutenkelsnit, “Probeer”, vrygestel. Dié jong sanger vertel aan Bloemfontein Courant dat sy vir die afgelope drie jaar by feeste en ander plekke regoor Bloemfontein optree.

Sy sê dit is harde werk om in Boemfontein ‘n beroep in kunste en musiek te volg, soveel te meer vir ‘n jong, opkomende kunstenaar wat nog op skool is, maar sy het aangehou droom dat sy ‘n sukses daarvan kan maak.

Botha het nog altyd geweet dat musiek vir haar is; sy het in 2016 aan ‘n kompetisie in New York deelgeneem en hoewel daar niks van gekom het nie, het sy nie tou opgegooi nie. “In 2017 het ek besluit om nie meer sanglesse te neem nie en myself verder te leer.”

Botha vertel hoedat sy een middag op haar bed gelê het en die woorde wat by haar opgekom het, op haar foon se Notepad begin skryf het. Die woorde het gegaan oor hoedat mense probeer om almal in die wêreld gelukkig te hou. So is haar lied, “Probeer” gebore. “Alles het so vinnig gebeur. Ek het die woorde in Februarie geskryf, in September het die lied uitgekom en het ek ‘n musiekvideo daarvan opgeneem,” sê sy trots.

Die jong Botha het groot planne vir die toekoms en musiek is bo-aan die lys van wat sy alles beplan. Sy sê haar planne vir die toekoms is om ‘n album vry te stel en sy wil graag nog baie optredes doen.

Botha se debuutenkelsnit “Probeer” is beskikbaar op iTunes en Spotify en alle digitale platforms. Mense kan ook haar Facebook-blad en Instagram @jeante.botha besoek om optredes te bespreek.

Die skakel vir die musiekvideo is https://youtu.be/6oUzlIByKFM.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za