Sakevroue gee nuwe lewe aan Soutpan

0
Sakevroue gee nuwe lewe aan Soutpan

Maricelle Botha

Vat die pad in Brandfort se rigting en kort voor jy daar uitkom, draai links in die rigting van die sneeuwit hopies wat jou reeds vroeg langs die pad begin groet. Dit is hier waar jy Soutpan sal vind. ’n Dorpie wat vroeër gebuk gegaan het onder ontvolking, maar nou herleef danksy twee vernuftige sakevroue. Liza de Wet en Krona Fourie het in 2001 Soutpan toe gekom nadat hulle vir ’n paar jaar in Brittanje getoer en gewerk het.

Hier het hulle intussen die Truksvy Koffiesjop wat al wyd bekend is vir hulle tradisionele Sondagmiddagetes op die been gebring. Mense ry Sondag na Sondag agter dié ‘koffiesjop’ se beesstert, afval, hoenderpastei en malvapoeding aan.
In die winkel verkyk jy jou aan ouwêreldse goed wat die winkel verfraai en tree jy sowaar terug in tyd. Op die pragtige antieke toonbank vind jy bottels met Wilson-toffies en Nikkerballs.

Met die sukses van die winkel en restaurant het De Wet en Fourie ook later die ou Standard Bank-gebou op die dorp as ’n backpackers ingerig en dit staan deesdae as Standard Bunk bekend. Daar is pakkies Kloof-koffiemoer en ander produkte uit weleer op die rakke. En natuurlik plaaslik geoeste sout. Sout word reeds sedert 1908 in hierdie omgewing gemyn. As gevolg van die ernstige vloede wat die omgewing in 1988 ervaar het, het baie myners groot verliese gely en hul panne tot niet gemaak. Intussen het boerdery in die omgewing toegeneem en vandag vertel Fourie dat hier, Sondae slegs met een oog toe gebid word omdat die plaasboere vir reën bid, terwyl reën die laaste ding is wat die soutboere nodig het.

Hier word sout nog met die hand geoes en besoekers kan ook by Truksvy navrae doen oor ’n begeleide toer na die soutpanne. Van die panne is nog in Fourie se familie en sy het eerstehandse kennis oor hoe die bedryf werk. Sy vertel dat hier hoofsaaklik twee graad-tipe sout geoes word, graad een wat vir huishoudelike gebruik aangewend word en graad twee wat gebruik word vir diere lek ensovoorts. Die verskil tussen die grade is eintlik maar net die suiwerheid van die sout. Sy voeg by dat hierdie area besonders reik aan minerale is en dit natuurlik dan in die sout wat hier produseer word, gevind word.

So as jy weer op ‘n naweek na jou ouma se boerekos verlang, gaan besoek dié outentieke restaurant met sy plattelandse saligheid. Vir meer inligting oor Truksvy besoek hul Facebook-blad, Truksvy B&B and Koffiesjop.

No posts to display