Sakelui kan Cheetahs hupstoot gee

0
1852

GEORG VAN ECK

Die Toyota-Cheetahs het heelwat speler-aanwinste vanuit Vrystaat, Griekwas en ook Griffons-geledere vir die sentrale streek bygekry en kan die 2013 Rugbykampioenskappe teen die top-spanne van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië met vertroue aandurf.
Die leemtes van spelers, wat beseer is of hul heil oorsee of in ander unies gaan soek, word deur die aanwinste op senior en junior vlak gevul. Onder die aanwinste tel Johan Sadie, Torsten van Jaarsveld, Lood de Jager, Joubert Engelbrecht, Cylib Oosthuizen, Rossouw de Klerk, Elgar Watts en Tertius Daniller terwyl ander spelers van Griekwas en Griffons, Jannie Boshoff, Hansie Graaff, Edwin Hewitt, Ligtoring Landman en Steph Roberts die eerste keer vir die Cheetahs kan uitdraf.
Vir die Vrystaat-Cheetahs, wat vanjaar in ’n promosie-relegasie-stryd met die Oostelike Provinsie Kings vir ’n plek in die Absa-Curriebeker-reeks se Premierliga betrokke was, is die aanwinste reeds uitstekende nuus. Verlede week se jaarvergadering van die Vrystaat Rugbyunie dui ook verder op vernuwing.
Die feit dat verteenwoordigers op die jaarvergadering van die Vrystaat Rugbyunie bykomende sakemanne op hul direksie gekies het en ook nuwe manne in die uitvoerende bestuur betrek het, kan ’n belangrike inspuiting vir Vrystaatse rugby wees.
Die drie sakemanne, Ryno Opperman (Konica-Minolta), Steva Klopper (Klopper’s winkelgroep) en Ernest Beck (Batho Pele Management Consultants), het almal sterk Vrystaatse rugbybande en dui daarop dat daar moontlik die komende seisoen ’n nuwe benadering gaan wees. Beck is ook voorsitter van Crusaders Rugbyklub in Bloemfontein.
In die uitvoerende bestuur is die voorsitters van twee toonaangewende Vrystaatse klubs, Lou Nieuwoudt van SUT en Rikus van Schalkwyk van Bloemfontein Polisie, ook betrek, terwyl Boetie Steenekamp van Barkly-Oos die Plattelandse Subunie-verteenwoordiger is.
Lindsay Mould, president van die Vrystaat Rugbyunie, het in sy jaarverslag dit duidelik gestel dat daar deeglike bestek-opname en beplanning van Vrystaat-rugby gedoen word. Almal sal hul gewig ten volle agter Vrystaat-Cheetah-rugby moet gooi – geen passasiers sal geduld word nie.
Vier van die Vrystaatse rugbyklubs, Kovsies, SUT, Polisie en Crusaders, gaan vanjaar nasionale blootstelling kry en daarom is dit goed dat al hierdie klubs op die direksie en/of uitvoerende bestuur verteenwoordig is.
Kovsies kry blootstelling in die ENB Varsitybeker en die ander gepaardgaande reekse, SUT in die ENB Skildreeks, terwyl Polisie en Crusaders aanstaande jaar in die nuwe nasionale Gemeenskapsbekerreeks sal speel.
Die Kovsies sal deur prof. Basie Verster, SUT deur Lou Niewoudt, Polisie deur Rikus van Schalkwyk en Crusaders deur Beck verteenwoordig word.