Sakelui in Dan Pienaar vra vir geduld

0
638

Besigheidseienaars in Dan Pienaar pleit met inwoners van die omgewing om met hulle te kommunikeer en hul kant van die saak te hoor. Dit nadat van die besighede wat sake doen in die woongebied gedreig is dat hulle gedagvaar sal word.

Van die inwoners wat die besighede wil dagvaar, is bekommerd oor die veiligheid van die buurt en dat die buurt afgradeer sal word. Hulle wil die besighede uit die woongebied hê.
Die eienaar van ‘n boetiek in die gebied, Francette Slabbert, vertel aan Bloemfontein Courant dat die besigheidseienaars net die beste wil hê vir almal in die omgewing.

Hulle glo dat hierdie situasie in iets positiefs verander kan word. Slabbert sê sy verstaan die klaers se frustrasie, maar as hulle kan saamwerk, sal hulle iets kan uitwerk. Sy vertel toe sy haar eiendom in die gebied gekoop het, dit vir meer as ‘n jaar leeg gestaan het omdat niemand ‘n huis wou koop in ‘n besige straat wat naby ‘n skool en ‘n inkopiesentrum is nie. Sy beklemtoon dat daar nie besighede in die straat is wat ‘n geraas maak of ander mense steur nie.

“Wat gaan van die 100 mense word wat in die omgewing werk by besighede wat uit huise bedryf word? Waarheen moet ons almal dan gaan?” vra sy.
Slabbert sê sy was al talle kere by die Mangaung Metro-munisipaliteit om te vra wat haar te doen staan. Al wat sy hoor, is dat hulle moet wag tot die struktuurplan gefinaliseer is. “Ons wil regtig nie onwettig optree nie, maar ons hande is afgekap.”

Sy verduidelik verder dat daar inderdaad ook mense by die munisipaliteit is wat probeer help om seker te maak dat hulle die regte ‘papiere’ het, maar hulle kan ook net soveel doen totdat die struktuurplan gefinaliseer is. Sy sê die besigheide volg die nodige stappe, soos om byvoorbeeld ingenieurs te gaan spreek om hul papierwerk klaar te kry.

“Ons vra vir tyd om hierdie saak met die munisipaliteit uit te sorteer; ons vra dat die munisipaliteit ons moet help om die proses te laat vinnigter laat geskied.”

Bloemfontein Courant het die munisipaliteit vir kommentaar gevra, maar geen reaksie gekry nie.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za