Saints verower Super6-kriekettitel

0
647

GEORG VAN ECK

Die derde Super 6’e o.13 kriekettoernooi van Magalies en die Laerskool Fichardtpark het by die skool plaasgevind en St. Andrews en Willem Postma is onderskeidelik die beker- en plaatwenner.

Vanjaar was agt spanne van sewe skole in aksie en die medediging was weer baie straf en interessant.

Saints het Tjokkies van Universitas in ’n taai eindstryd op die beker geklop, terwyl Willem Postma se span die knoop met ’n ses van die laaste bal van die wedstryd teen Pres. Brand in die plaateindstryd deurgehak het.

Die laerskole en spanne, wat in aksie was, is: President Brand, St. Andrews, Willem Postma, Fichardtpark (twee spanne), Universitas (Tjokkies), Mangaung Centre of Excellence en Jim Fouché.

Die wenspanne het prysgeld van ’n R1 000 vir die bekerwenner en R500 vir die plaatwenner vir hul onderskeie skole verower. Al die spelers van die wenspanne het ook ’n houer met Magalies vrugtesapkonsentraat ontvang.

Met hul seges het Saints en Willem Postma onderskeidelik Fichardtpark (beker) en Universitas (plaat) as die 2012 trofeewenners onttroon.

Al die deelnemende spelers en hul afrigters het ook pette, sweetbane en bottels vir onbeperkte vrugtesap gedurende die toernooi ontvang.

Elke span het ses spelers wie elkeen, die paaltjiewagter inkluis, een boulbeurt per wedstryd sal afstuur. Elke wedstryd duur dus 12 boulbeurte elk.

Die spanne het in vier wedstryde teen mekaar speel. Die wenners van die eerste rondte wedstryde het deurdring tot die bekerkompetisie, terwyl die ander vier spanne die plaatkompetisie verder gespeel het om die wenner te bepaal.
PJ Vermeulen van Magalies het verseker dat die toernooi in ’n feestelike atmosfeer plaasgevind deur musiek te verskaf die toeskouers en spelers het gratis sap ontvang. Daar was ook braaiers en vure wat deur die toeskouers gebruik is.