Saints verdedig provinsiale T20 titel

0
2033
Selfs 'n driekuns deur die veelsydige sportman, Juan-Dee Oliver van Grey-kollege, kon sy span nie tot 'n sege lei teen Saint Andrew's School nie. Die draaibalbouler het met 'n boulontleding van 4/25 gespog in die Provinsiale Skole T20-eindstryd, wat op die Johan Volsteedt Oval by Grey beslis is. FOTO: MORGAN PIEK

Die eerste krieketspan van St Andrew’s School in Bloemfontein het Sondag hul Provinsiale Skole T20-titel verdedig deur Grey-kollege met 40 lopies te troef.

Die verdedigende kampioene het die sege op die Johan Voldesteedt Oval by Grey beklink.
Saints het die loot gewen en besluit om eerste te kolf teen die gasheerskool.

Die besoekers het aanvanklik tydens die eerste ses boulbeurte gesukkel met die wilgerlat, en kon slegs 20 lopies vir die verlies van twee paaltjies aanteken.

Goeie boulwerk deur Grey het daartoe gelei dat die 2018- nasionale kampioene vir ‘n skamele 125 geboul is. Dít danky ‘n skitterende vertoning met die bal deur Grey se kaptein, Juan-Dee Oliver, wat vier paaltjies vir 25 lopies platgetrek het en ‘n driekuns deur dié veelsydige sportman ingesluit het.

Vir Saints het JD Bruwer 38 lopies van 43 balle aangeteken, terwyl Gerrit Badenhorst 27, en Reeza Alexander 23 lopies bygedra het.

Met ‘n 36-lopie-vennootskap tussen die aanvangskolwers, Neels Volschenk en Marco Fouché, het Grey sterk begin. Dinge het egter lelik begin skeefloop vir die tuisspan danksy skitter boulwerk deur die draaibalbouler, Matthew Davids, wat in 2.3 boulbeurte drie paaltjies vir 6 lopies laat kantel het. Dit het daartoe gelei dat Grey vir 85 uitgeboul is. Slegs Lerato Nqoyi met 19* en Volschenk 19 lopies het enigsins indruk op die telbord gemaak.

Dit was sonder twyfel ‘n dag vir die draaibalboulers aangesien hulle 14 van die 20 paaltjies ingeoes het op die dag.

Saterdag het Fouché van Grey ‘n nasionale rekord losgeslaan toe hulle reuse-170* gemoker het tydens hul kragmeting teen die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad. Fouché het slegs 72 aflwerings getrotseer, en het nege viere en 13 sesse gemoker.

Dit is die hoogste telling nog sedert die ontstaan van die toernooi, en die vorige rekord van 168 lopies het behoort aan Damon de Villiers van St Dominic’s College (Welkom) teen die Hoërskool Hentie Cilliers (Virginia). – MORGAN PIEK