GEORG VAN ECK
Kan Charl Schwartzel weer soos met die eerste Alfred Dunhill-gholfkampioenskappe op die baan van die Leopard Creek-buiteklub by Malelane in 2005 die titel verower? Na sy skitterende sege in Thailand slaan Schwartzel môre as die groot gunsteling af.
Of gaan Garth Mulroy sy titel vanjaar met die tweede toernooi van die 2013 Europese-reeks op die Leopard Creek-baan suksesvol verdedig, maar dalk is dit van die ander Suid-Afrikaners, wat ná ontwrigting deur reën met die Nelson Mandela-kampioenskap op die Royal Durban-baan, op die voorgrond gaan tree.
Louis Oosthuizen, George Coetzee, Branden Grace, Thomas Aitken en Alex Haindl is almal manne wat graag met hierdie titel en die groot gedeelte van die totale prysgeld van R17 miljoen wil wegstap. Die veld van spelers bestaan hoofsaaklik uit Suid-Afrikaanse spelers waaronder Bloemfontein se eie Jbé Kruger, wat sowat ’n maand gelede deur die Vrystaatse Sportmedia-verening as die Vrystaat se Sportman van die Jaar aangewys is. Vier ander Vrystaters, Omar Sandys, George Brown, Dean Burmester en Alex Haindl, slaan ook in die gewilde toernooi af. Van die ander Suid-Afrikaners wat in aksie sal wees, is Richard Sterne, Jaco van Zyl, Michiel Bothma, Anton Haig, James Kamte, Warren Abery en Keith Horne.
In die vorige Alfred Dunhill-kampioenskaptoernooie het nog net die Big Easy, Ernie Els, die titel meer as een keer verower. Els het in 1995 die titel op die Wanderers-baan in Johannesburg gebuit toe die toernooi nog as die Lexington PGA bekend was en vier jaar later weer op die Houghton-baan. In 2006 het die Big Easy dit Skeepsreg op die Leopard Creek-baan gemaak. Mulroy het verlede jaar die Luiperd-trofee omhoog gehou en grootliks daardeur toelating gekry om vanjaar in die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City te speel. Hy het nie te waffers op Leopard gevaar nie en sal daarvoor wil vergoed wanneer hy môre op die Leopard Creek-baan afslaan.
’n Sterk aanslag uit Europa en veral Engeland gaan dit mededingende toernooi maak. Ross Fisher, Oliver Wilson, Robert Rock en David Hosey is van Engeland, terwyl Soren Kjeldsen, George Murray, Peter Uihen, Julien Quesne en Mathias Grönberg van die ander oorsese spelers is, wat in aksie sal wees.