SA tennisspelers speel weer in Hopmanbeker-toernooi

0
1180

Suid-Afrika se twee top-tennisspelers, Chani Scheepers (28) en Kevin Anderson (26), gaan saamspan om die eerste keer in meer as ’n dekade aan die Hopmanbeker-toernooi in Perth, Australië deel te neem.
Dit is die 25ste jaar dat die toernooi aangebied word en top spelers soos Jo-Wilfried Tsonga, Novak Djokovic, Ana Ivanovic, Tommy Haas, Andrea Petkovic, Bernard Tomic en Venus Williams sal van 29 Desember tot 5 Januarie 2013 in aksie wees.
In 2001 was Amanda Coetzer en Wayne Ferreira die laaste Suid-Afrikaners wat genooi is om aan dié internasionale spantoernooi deel te neem. Coetzer en Ferreira het vroeër reeds met groot sukses in die toernooi gespeel. In 1997 is hulle as groepwenners deur na die eindstryd, maar is deur die Amerikaners, Justin Gimelstob en Chanda Rubin, geklop. In 2000 het hulle die titel verower deur Paradorn Srichaphan en Tamarine Tanasugarn van Thailand 3-0 te oorrompel.
Die daaropvolgende jaar is die twee Suid-Afrikaners weer as groepwenners uitgeskakel. Die keer deur gedugte Switserse paar en die uiteindelike kampioenpaar daardie jaar, Martina Hingis en Roger Federer.
Die voormalige Vrystater, Scheepers, en Anderson het al saamgespeel. Hulle het vanjaar in die Wimbledonse toernooi in die gemengde dubbelspel meegeding, maar is in die eerste rondte uitgeskakel.
Die toernooi vind in Desember plaas en die warm weer in Perth kan in die twee Suid-Afrikaners se guns tel. Maklik sal dit egter nie wees nie, want van die wêreld se beste spelers is in aksie.