SA-tennispaar begin Hopmanbeker-aanslag teen Spanje

0
496

GEORG VAN ECK

Kan Kevin Anderson en Chani Scheepers die prestasie van hul landgenote, Wayne Ferreira en Amanda Coetzer, 12 jaar gelede in Perth, Australië herhaal?
Die antwoord sal reeds vroeg in die nuwe jaar gekry word waar hulle op uitnodiging aan die 25ste Hyundai Hopmanbeker-toernooi teen pare van sewe ander lande deelneem. Sterk kombinasies van Amerika, Serwië, Italië, Australië, Duitsland, Spanje en Frankryk sal meeding.
Dalk is dit ’n goeie teken dat Scheepers netsoos Coetzer destyds gebore Vrystaters is, maar meer as dit sal nodig wees om hier hond haar af te maak.
Die gunstelinge is ongetwyfeld die Serwiërs, Novak Djokovic en Ana Ivanovic, wat onderskeidelik eerste en 13de op die enkelspel-wêreldranglys is.
Die Serwiërs se grootste teenstand sal van die Amerikaanse paar, John Isner en Venus Williams, kom. Isner en Williams is onderskeidelik 14de en 24ste op die wêreldranglys.
Die twee Suid-Afrikaners, Anderson (26ste) en Scheepers (60ste) se vermoë om vining aan te pas by mekaar se spel in die gemengde dubbelspel-wedstryde gaan waarskynlik deurslaggewend wees. Die Suid-Afrikaners begin hul aanslag teen die Spaanse paar, Fernando Verdasco en Anabel Medina Garrigues, wat vierde gekeur is.
Ferreira en Coetzer het in 1997 die eindstryd van die Hopmanbeker-toernooi gehaal, maar is ’n titaniese stryd in die gemengde dubbelspel deur die Amerikaners Justin Gimelstob en Chanda Rubin geklop. In 2000 het die Suid-Afrikaanse paar die titel verower toe hulle Thailand in die eindstryd geklop het. Vir vanjaar se toernooi, wat van 29 Desember tot 5 Januarie plaasvind, is Anderson en Scheepers sesde gekeur.
“Dit is ’n baie sterk veld vanjaar, maar ek glo ons kan goed saam vaar. Dit is ’n fantastiese toernooi en net die regte voorbereiding vir die Australiese Ope,” het Anderson gesê.
Die spanne en spelers met hul posisies op die enkelspel-ranglys is: 1. Serwië – Novak Djokovic (1) en Ana Ivanovic (13); 2. VSA – John Isner (14) en Venus Williams (24); 3. Italië – Andreas Seppi (23) en Francesca Schiavone (35); 4. Spanje – Fernando Verdasco (24) en Anabel Medina Garrigues (50); 5. Duitsland – Tommy Haas (21) en Andrea Petkovic (26); 6. Suid-Afrika – Kevin Anderson (26) en Chani Scheepers (60); 7. Frankryk – Jo-Wilfried Tsonga (8) en Mathilde Johansson (88); 8. Australië – Bernard Tomic (52) en Casey Dellacqua (92).