SA-potspelspan pak bestes in China

0
539

Die Suid-Afrikaanse 9-bal Junior Potspelspan (pool) sal in die komende dae op hul beste moet wees wanneer hulle aan die Wêreld-potspelkampioenskap in China sal deelneem.

Die span wat bestaan uit Franco Kriel, Jana Bester, Naas Kotze (almal van Bloemfontein), en hul spanbestuurder, Rocco Kotze, het reeds gister na China vertrek waar hulle saam met 19 ander lande om die kampioenskap se titels gaan meeding.

Die Grey Kollege-leerling, Zander Kriel, het vroeër vanjaar met onderskeidelik die Suid-Afrikaanse o.17- en o.19-titels weggestap, terwyl Jim Fouché se Jana Bester die groot wenner in die o.19 meisies-afdeling was om hul plekke vir die Wêreld-kampioenskap te verseker.

Dit gaan egter nie maklik wees wanneer hulle met die beste jongelinge in die wêreld kragte meet nie. Die voorsitter van die Tempe Cuesport-akademie, David Kriel, het aan Bloemfontein Courant vertel dat dit ‘n groot toets vir die Suid-Afrikaanse spelers gaan wees.

“In Shanghai bied hulle die 9-bal-weergawe van die spel as ‘n verpligte vak op skool aan en hulle oefen daagliks vir ongeveer 8 uur lank. Verder is daar volgens my statistieke 1.6 miljoen potspelspelers in China, waarvan 1.2 miljoen meisies is. So dit gaan nie maklik wees nie.”

“Daar is byvoorbeeld meer 9-bal-potspeltafels in Amerika as rugbyvelde in Suid-Afrika. Ná graad sewe spesialiseer die kinders in snoeker of 9-bal-potspel,” sê Kriel.

Aloysius Yapp (Singapore), Liu Yu Chen (China ) en Kong De Jing (China) was die algehele wenners op verlede jaar se junior kampioenskap. Die beste resultaat deur ’n Suid-Afrikaanse speler op die kampioenskap was in 2013 toe Zander Kriel ( na die derde ronde deurgedring het.

Die junior kampioenskap vind vanaf 14 – 17 November by die Shanghai Huimin Middle School plaas.