SA netbalbeamptes steek kers op by Australië

0
575

GEORG VAN ECK

Suid-Afrikaanse netbalbeamptes het verlede week oorsee vertrek waar hulle by hul eweknieë in Australië gaan kers opsteek het oor ’n beoogde professionele netballiga vir Suid-Afrika.
Die president van Netbal Suid-Afrika Mimi Mthethwa en haar adjunk Blanche de la Guerre sal samesprekings met Netbal Australië se uitvoerende hoof Kate Palmer en ander beamptes van die wêreld se sterkste netballiga, die ANS-kampioenskappe van Australië en Nieu-Seeland, voer met die oog daarop om ’n suksesvolle reeks in Suid-Afrika te vestig.
Die minister van sport en ontspanning, Fikile Mbalula, het vroeër vanjaar aangekondig dat ’n Suid-Afrikaanse professionele liga (NPL) aanstaande jaar geloods gaan word in ’n poging om die grootste vrouesportsoort in die land ’n hupstoot te gee.
Dit is jammer dat ’n kundige soos Elsje Jordaan nie ook in die samesprekings ingesluit is nie. Sy het in 2011 die baie suksesvolle Netbal Grand-reeks (NGR) met Suid-Afrikaanse streekspanne van stapel gestuur.
Die Lightning Roses, streekspan van die Vrystaat en Noordkaap, was die eerste kampioenspan van dié reeks. Ongelukkig het die opwindende reeks weens verskeie redes doodgeloop.
Mthethwa and De la Guerre sal ook met die bestuurder van die ANS-kampioenskappe, Andy Cook, sake bespreek soos die beheer van die NPL, bepalings, kalenders en kompetisiereëls.
Australië en Nieu-Seeland oorheers netbal in die wêreld en van die beste spelers ter wêreld is gereeld in die ANS-kampioenskappe in aksie. Die wedstryde trek baie toeskouers en die kampioenskappe kry ook televisiedekking. Die gevolg is dat netbalspelers daar net soveel ondersteuning as rugby- en krieketspelers kry.
Die Spar Proteas van Suid-Afrika het Maandag na Australasië vertrek waar hulle teen Engeland, Australië en Nieu-Seeland in die Quad-reeks en daar na die Vinnige5-reeks (Fast5) sal meeding. In die nuwe Vinnige5-reeks sal Malawi asook Jamaika ook in aksie wees.