SA Klubkampioenskappe dalk keerpunt in rugby

0
441

GEORG VAN ECK

Soos Courant reeds ‘n paar maande gelede berig het, kan die Suid-Afrikaanse Klubkampioenskappe ‘n keerpunt vir klubrugby in die land bring, veral as daar ook voortgegaan word met die planne om ‘n nasionale klubliga soortgelyk aan die FNB Varsity-beker en -skildreekse aanstaande jaar in te stel.
Klubrugby het die afgelope paar jaar kommerwekkend agteruitgegaan en die instel van die Varsity-reekse was ‘n uitstekende inspuiting vir universiteite rugby. Die teenwoordigheid van Varsity-spelers in die huidige Curriebekerspanne getuig daarvan.
Dit het egter tot ‘n sekere mate die oopklubs verder ondergrawe omdat hul spelers nie dieselfde blootstelling en speelkans gekry het nie. Vanjaar se SA Klubkampioenskappe vind plaas van 15 tot 21 September in Rustenburg en anders as in die verlede sal net oopklubs hieraan deelneem.
Sentraal-Suid-Afrika word deur Rovers van Welkom (Griffons), Bloemfontein Polisie (Vrystaat) en Sishen (Griekwas) verteenwoordig.
Die ander spanne wat in aksie sal wees is: Roodepoort (Goue Leeus), Naka Bulle (genooi, Blou Bulle), Rustenburg Impala (Luiperds), Villagers van Worcester (Boland), Pretoria Polisie (Blou Bulle), Durbanville-Bellville (WP), Blanco (SWD), Old Selbornians (Grens), Brakpan (Valke), Witrivier (Mpumalanga), Despatch (OP), College Rovers (KZN) en Noordelikes (Limpopo).
Dit is baie interessant dat spanne, wat in die glorietydperk van die SA Klubkampioenskappe gedurende die Paasvakansie in Durban in die jare 1970 en 80 uitgeblink het, steeds die septer in hul unies swaaai. Spanne soos Pretoria Polisie en Despatch, maar spanne soos Diggers, Collegians van Durban, Villagers van Kaapstad, Oud-Greys van Bloemfontein, om maar net ‘n paar te noem, is nie daar nie.
As hierdie nuwe benadering van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie betyds is en daar word voortgegaan met die beplande nasionale klubreekse vir oopklubs, kan dit as draaistrategie sukses behaal. Vir Suid-Afrikaanse rugby is dit baie belangrik, want op die oomblik gaan te veel belowende jong spelers op die platteland en in stede verlore.
Die bepalings vir die eerste ronde van die SA kampioenskappe is:
Rustenburg Impala t Villagers Worcester; Roodepoort t Naka Bulle; Pretoria Polisie t Rovers Welkom; Durbanville-Bellville t Blanco; Bloemfontein Polisie t Old Selbornians; Sishen t Brakpan; Witrivier t Despatch; College Rovers t Noordelikes.