Daar is ‘n massiewe probleem met gemeenskapsveiligheid in Suid-Afrika, maar dit kan in ‘n groot mate deur gemeenskappe self beheer word. Dit is volgens die hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, Ian Cameron.
Sy mening volg nadat die burgerregte-organisasie, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRV), vandag ‘n verslag “Hoe om die oorlog teen misdaad in Suid-Afrika te wen” in Pretoria bekend gemaak het.
Daar word onder meer drie vorms van selfbeskerming in gemeenskappe in die verslag ondersoek, wat binne die raamwerk van die Grondwet val.
Cameron sê daar is kommer oor gemeenskapsveiligheid en die toename in veral geweldsmisdaad. Hy sê misdaad kan self deur gemeenskappe hokgeslaan word.
“Dit beteken nie mense moet wapens opneem om misdaad te beveg nie, maar hulle moet binne die raamwerk van die wet leer hoe om as gemeenskappe te organiseer om misdaad suksesvol te bekamp.
Daar is reeds beter samewerking met die polisie. Ons sien vandag se verslag as ‘n gesprekspunt en ‘n dag waar ons na ander oplossings kan begin kyk.
Suid-Afrikaners is moedeloos en moeg daarvoor om deur politici voorgesê te word dat hulle nie mag optree nie. Ons sê egter vandag dat hulle binne ‘n raamwerk kan funksioneer om hulself te beveilig.”
Hy sê Suid-Afrika kan uitsien na ‘n positiewe toekoms indien vennootskappe, soos dié een in Bloemfontein, aan die orde van die dag is.
“Daar is omtrent agt buurtwagte in Bloemfontein. Hulle werk fantasties saam met die polisie en al die private sekuriteitsmaatskappye daar. Ons kan duidelik sien hoe misdaad hokgeslaan word en hoe woonbuurte baie veiliger is.
As ons die Bloemfontein-model regoor die land toepas, met die verskillende organisasies wat saamwerk, dan gaan ons beslis sukses behaal. Ons het nie ‘n keuse nie, ons moet ons gemeenskappe beveilig,” sê Cameron.
-Mark Steenbok