SA Blues Breakers-versamelalbum vir die fynproewer

0
593

Die SA Blues Breakers-versamelalbum is ‘n projek wat klem lê op die vaardighede en kundigheid van 16 van die land se beste blues-spelers en -groepe.
Die album bied ‘n verskeidenheid van blues- en blues-rock-treffers vir die fynproewer. Reeds in die eerste snit hoor jy al die aantreklike kitaar-riffs van Natasha Meister in die liedjie "Cross Road Blues", deur die ikoniese Robert Johnson. Die Black Cat Bones bring hul weergawe van "The hunter" van Albert King, bekendgemaak deur die groep Free. As die voorsmakie van dié twee snitte jou nog nie die klank uit die diep suide van Amerika laat ‘voel’ nie, is daar nommers soos "Parchman farm", deur die blues-legende Albert Frost en die vokale sensasie Gerald Clark, wat ‘n sielvolle vertolking van die Ray Charles-liedjie, "Hallelujah" doen. Die album sluit verder The Ballictics, voorheen bekend as Ballistic Blues, se weergawe van Stevie Ray Vaughan se "Mary had a little lamb" en Ann Jangle se vertolking van die Tom Waits-liedjie "Jesus Gonna Be Here". "29 Ways", geskryf deur Willie Dixon, word gespeel en gesing deur Wouter van de Venter. Die Suid-Afrikaanse blues-ikone, die Blues Broers, word op die album gehoor in die gewilde klassieke liedjie, "When my Baby Left Me". Crimson House Blues voer die vurige liedjie " Mojo Working " uit terwyl die legendariese Piet Botha sy weergawe van "Cars hiss by my window", ‘n liedjie deur die groep The Doors, lewer. Nick Forbes, ‘n talentvolle jong musikant met ‘n groot stem doen "Kansas City" terwyl Jesse Jordan die oor streel met "Gimme one reason", van Tracy Chapman. Kevin Floyd bring die Led Zeppelin geskryfde "Since I’ve been loving you" kundig oor. Die gewilde Boulevard Blues Band het die Eric Clapton-lied "Someday after a while" opgeneem met Doctor John Mostert agter die mikrofoon. Die bekende blues-rock-trio, Akkedis, glip die atmosferiese "The thrill is gone" in die versameling in. Die rockers, De Wallen, eindig hierdie ervaring met die merkwaardige Stevie Ray Vaughan-liedjie "Pride and Joy".
Die album is landwyd en op iTunes beskikbaar.