SA atlete vertoon goed by Sentraal-byeenkoms

0
909
RUFUS BOTHA

Die Hoërskool Sentraal en die Pukke se jaarlikse uitnodigingsatletiekbyeenkoms vir hoërskole van oor Suid-Afrika heen het Vrydag in Bloemfontein oudergewoonte vertonings uit die boonste rakke ontlok.

Om ‘n meer akkurate barometer te gebruik as die jarelange onder-verdenking-puntestelsel wat in werking was om die beste vertonings van die byeenkoms te bepaal, het Courant die statistiek van verlede jaar se nasionale hoërskolekampioenskap afgestof. En, nie minder nie as ses (4 seuns en 2 meisies) deelnemers sou met hul oorwinnings verlede jaar goud in die sak gesteek het by die genoemde nasionale byeenkoms.

Terloops, volgens die genoemde puntestelsel wat menigte atletiekkenner rooi onder die krag laat, verskyn slegs drie van dié ses puik vertonings onder die top-10-vertonings van die byeenkoms.

Een van die beste vertonings (waarskynlik dié beste) is in die hoogspring vir seuns 15 jaar behaal toe die kort, veerkragtige Breyton Poole van Paul Roos Gimnasium sierlik op ‘n skitterhoogte van 1,90m oor die dwarslat geseil het. Hy sou daarmee goud gewen het by die genoemde 2014- nasionale kampioenskap.

Die belofte wat Jannes Schlebusch (Grey) reeds in die laerskool in die spiesgooi-nommer getoon het, het nog nie vervaag nie. Hy het sy spies op ‘n allemintige 69,50m met die gras laat kennis maak en dit is 45 sentimeter verder as die wenafstand by die 2014- nasionale skolebyeenkoms.

In die 400m-hekkies vir seuns 17 jaar het die haastige Gianni Lombaard (Paul Roos Gimnasium) 18 honderstes van ‘n sekonde vinniger vermag as die wentyd by die nasionale skolekampioenskap. Hy het ‘n uitmuntende 52,64 losgenael, maar hy moes deurgaans oor sy skouer loer om ‘n verbete aanslag van die Bloemfonteiner, Nico Prinsloo (Grey, tweede, 53,38) af te weer.

Die vierde atleet wat vinniger as die wentyd by die nasionale byeenkoms aangeteken het, was nog ‘n besoeker van Paul Roos Gimnasium, Benje Momberg. Hy het die 200m (17 jaar) met ‘n gunstige wind van 1,3 meter per sekonde van agter in ‘n blitsige 21,63 afgelê.
Onder die meisies sou twee atlete die boonste trappie van die podium betree het by die 2014 nasionale byeenkoms.

Colette Uys (Riebeeckstad) het in die afdeling vir meisies 15 jaar ‘n puik oorwinning (40,04) in die diskusgooi behaal. Jim Fouché se puik hamergooier, Tharina van der Walt, het ‘n eweneens ‘n mooi afstand (39,60) vermag vir haar tweedeplek, en dit beklemtoon weer haar veelsydigheid in die veldnommers.

Angeline Smith (La Rochelle, 17 jaar) se 14,30m gooi in die gewigstoot sou self die wenner van verlede se Suid-Afrikaanse kampioenskap pakgegee het.

Van die kragman van die Hoër Jongenskool Paarl, Rian Barnard (17 jaar), gaan nog baie gehoor word. Hoewel dit naby was, het hy nie afstande bereik wat hom by die nasionale byeenkoms goud sou besorg nie, maar sy onderskeidelike oorwinnings in die diskusgooi (45,02) en gewigstoot (17,10) hou groot belofte in. Laasgenoemde afstand sou hom die bronsmedalje in die sak gebring het by die nasionale byeenkoms.