SA 0.19 slaggereed vir Wêreldbeker

0
302
Gerald Coetzee tydens die 2018 0.19 Krieket Wêreldbeker in Nieu-Seeland. FOTO: KAI SCHOEWER/ ICC

Suid-Afrika is slaggereed vir die Internasionale Krieketraad se o.19-Wêreldbeker wat Vrydag in Kimberley begin. Dié toernooi, wat elke tweede jaar gespeel word, sal vanjaar in die Diamantstad, Bloemfontein, Potchefstroom en Benoni plaasvind.

Die aksie begin Vrydag in die openingswedstryd wanneer Suid-Afrika Afghanistan in Kimberley die stryd aansê.

Daar sal oor die naweek egter ook wedstryde in die res van die gasheerstede gespeel word.

Saterdag sal Bangladesj en Zimbabwe, asook Japan en Nieu-Seeland sake in Potchefstroom uitspook.

Die Mangaung Oval in Bloemfontein sal ook Saterdag die kragmeting tussen Kanada en die Verenigde Arabiese Emirate aanbied, terwyl Australië en die Wes-Indiese Eilande by die Diamond Oval in Kimberley koppe stamp.

Sondag sal Pakistan en Skotland kragte meet, terwyl die verdedigende kampioene en viermalige wenners, Indië, hul veldtog van stapel stuur teen Sri Lanka in Bloemfontein.
Hoewel Suid-Afrika slegs die een wedstryd in Bloemfontein speel, glo die VKB Knights se snelbouler, Gerald Coetzee, dat hulle ‘n voordeel het aangesien hulle die veld in Bloemfontein, Potchefstroom en Kimberley goed ken.

Coetzee en die draaibalbouler, Pheko Molestane, is albei van Bloemfontein, terwyl die kolwer, Andrew Louw, van Kimberley afkomstig is. Die onderkaptein van die span, Khanya Kotani, en Odirile Modimokoane is abei van Potchefstroom.

“Ons is baie opgewonde om deel te wees van die Wêreldbeker, veral omdat dit in Suid-Afrika gespeel word,” het Coetzee aan Bloemfontein Courant gesê.

“Ek en Pheks sou nooit gedink het dat ons in ‘n Wêreldbeker sou kon speel in die stad waar ons grootgeword het nie. Ons het ook vir Louw, wat in Kimberley grootgeword het, en hy sal sonder twyfel ondervinding hê met betreking tot die toestande daar. Dan is daar ook ‘n paar ouens van Potch af.”

Al die naweek se wedstryde sal om 10:00 die oggend begin. Suid-Afrika sal op 25 Januarie die Verenigde Arabiese Emirate in die Rosestad pak. – MORGAN PIEK