Rustige outjie slaan hard op Nag van Kampioene

0
945

STEFAN LOTTER

Hierdie matrikulant mag dalk ‘n rustige outjie wees, maar as hy jou boks gaan jy lê! Nico van der Merwe (18), het aanvanklik in Gemengde Gevegskuns (GGK) begin belangstel nadat hy dit sowat ’n jaar gelede op TV gesien het. Op die vyfde Nag van die Kampioene (NVDK.5) wat op 11 Mei in die Bloemfonteinse stadsaal plaasvind gaan Nico meer as net belangstellende toeskouer in dié kontaksport wees.

“Ek hou van die atletiese sy en sportmanskap van GGK,” vertel hy. “Dis nie ’n negatiewe aktiwiteit nie, maar ’n sportsoort soos enige ander. Ek het hard geoefen en is reg vir die NVDK.5!” Die leerling van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein wat teen 64 kg inweeg en 1.78m in sy sokkies staan, spog met ’n rekord van 12 gevegte waarvan hy 11 gewen het. Dit is dus duidelik dat hy in die liggewig-afdeling sterk houe kan uitdeel. Vroeër het sy skop- en grondwerk ietwat tekort geskiet en het hy hoofsaaklik op sy boksvernuf staatgemaak. Sedert hy die week by Champion Training Academy begin oefen het, het afrigter Andre Mouton baie fokus op Nico se grondtegnieke en grepe geplaas in aanloop tot die NVDK.5.

Hoe voel die skoolseun se ouers oor GGK?
“Enige sport het beserings,” sê Nico se pa, Gavin. “Maar as jy goed voorbereid is, kan beserings voorkom word. My kind hang nie in kuierplekke rond nie en is doodrustig. GGK is net •n sport en ek sal geen sportsoort slegpraat nie.”