Die produktiewe Vrystaatse talentfabriek het sy nuutste ster gelewer – die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje se 17-jarige Rumé Burger, ’n kortafstandatleet wat nie lyk of haar spoed binnekort gaan afneem nie.
Rumé het tydens die onlangse Vrystaat-atletiekkampioenskap vir hoërskole in Sasolburg albei die provinsiale o.17 rekords in die 100m en 200m verbeter. Dit staan al van voor haar geboorte.
Volgens Rumé is sy van jongs af lief vir atletiek, alhoewel sy ook netbal en hokkie gespeel het. “Ek het begin met atletiek op die ouderdom van sewe by Laerskool Willem Postma, en vinnig ’n groot liefde daarvoor ontwikkel,” het sy aan Bloemfontein Courant verduidelik. “Ek het eers my ware talent besef toe ek vir my pa begin weghardloop!”

Rumé het verduidelik dat sy in 2022 eers ernstig begin oefen het, toe sy by Elinda Vorster begin het.
Haar ma, Marinda, verduidelik dat daar nie eintlik ’n geskiedenis van atlete in hul familie is nie, maar dat Rumé en haar susters, Lilly en Zylie, steratlete is.
“Lilly is die Vrystaat o.15 kampioen vir 90m hekkies en speel briljante hokkie vir Oranje se o.16 span,” het Marinda vertel. “Zylie, die jongste, is ook ’n o.12 hekkiesatleet. Sy is nog in die laerskool en speel netbal en hokkie vir Willem Postma. Sport is definitief in Rumé en haar sussies se are.”
Volgens Rumé inspireer haar ouers haar om aan te hou om hard te werk en haar passie na te streef. “My pa en my ma is vir seker my grootste inspirasie as dit kom by harde werk en passie vir sukses, deursettingsvermoë en aanhou,” het sy vertel. “My pa maak my en my sussies groot met die lesse ‘harde werk troef talent as talent nie hard werk nie’.”
Die jong atleet verduidelik ook dat haar rekordtye altyd die doel was vir haar en haar afrigter. “Dit was definitief in my en ‘coach’ Elinda Vorster se beplanning om die onlangse tye en rekords te hardloop, ons oefen vir dit.”
Rumé glo dat elke medalje ’n groot seën is. “Ek neem niks as vanselfsprekend nie, en elke rekord beteken vir my so baie omdat dit ’n groot voetspoor los in Suid-Afrikaanse atletiek.”
Haar volgende mikpunt is om by die Suid-Afrikaanse Senior Kampioenskappe die finale te haal, “en dalk op die podium te kom”. Rumé sal die jongste atleet by die byeenkoms wees, maar sal beslis nie terugstaan nie.
Sy hoop ook om vir volgende jaar se Jeug-Olimpiese Spele te kwalifiseer en hoop om uiteindelik ook by die Olimpiese Spele te kompeteer. “Met Jesus aan my kant glo ek al my drome kan waar word,” sluit Rumé af.
Haar pa, Philip, het aan Bloemfontein Courant vertel: “Ons is baie dankbaar vir die sukses wat sy in so ’n kort tydperk opgebou het.” Hy sê dat alhoewel 2028 Olimpiese Spele te naby is om voor te mik, “hoop ek om in 2032 vir Rumé daar te sien met ’n medalje om haar nek”.
Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za