Christal-Lize Muller
Meer as 220 ruiters op hul perde het vanoggend weggespring vir die laaste dag van die moordende 42ste Fauresmith-perde-uithourit. Koördineerder Charmaine Nickisson sê met gunstige weerstoestande was deelnemers vroegoggend slaggereed om hul staal te wys.
Volgens haar het ruiters en hul perde wat die vinnigste tyd gelewer het, tot dusver
reeds vanaf 07:00 weggespring.
Die voorloper in die junior-afdeling vanoggend was Nico-Meyer Le Roux. Volgens Nickisson sal die eerste deelnemers na verwagting teen 10:00 die rit voltooi. Die Fauresmith-uithourit word deur baie beskou as een van die mees uitmergelende ritte ter wêreld weens die moeilike roete, koue weerstoestande en die lang afstand oor drie dae.
Sowat 350 deelnemers het op die eerste dag weggespring. Die rit dien as die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Urvsa), se nasionale uithourit-kampioenskap.