Rugbyafrigter se selfdood skok

0
2031
Demetri Ontong

“Dit het sleg geëindig, maar ons sal die goeie onthou,” het ‘n bedroefde Relda Ontong van Heidedal gister aan Bloemfontein Courant gesê nadat haar man, Demetri hierdie week sy eie lewe geneem het.

Ontong, bekende rugbyafrigter van onder meer die Cheetah Kids, is op Maandag 13 Augustus dood aangetref naby sy huis in Rykmanshoogte, Heidedal.

Ontong was bekend as ‘n vriendelike mens en sy dood volg op wat sy vrou as ‘n “moeilike naweek” vir hom beskryf het. Volgens Relda het sy gereeld vir Demetri gevra of hy onder druk was by die werk aangesien sy emosionele toestand deur verskillende fases gegaan het. Hy was egter nooit een om te praat nie, selfs nadat sy professionele hulp voorgestel het.

“Dit is ‘n seer saak, hy het nie vir ‘n professionele hulp gegaan nie. Ons het probeer, maar hy wou nie gaan nie. As hy vir behandeling gegaan het, kon dinge nou anders gewees het,” het sy gesê.

Die familie het nie geweet dat Demitri aan depressie gely het nie en is geskok deur sy optrede. Sy driejarige dogter het die wêreld vir hom beteken. “Hulle was vreeslik erg oor mekaar, hy was ‘n goeie mens. Elkeen het maar sy foute maar hy het ‘n goeie hart gehad en was baie lief om mense te help,” vertel Relda.

Demetri se lyk is deur een van sy vriende ontdek nadat hy Maandag nie by die huis opgedaag het soos gewoonlik nie. Sy vrou het bekommerd geraak en ‘n vriend gevra om na hom te gaan soek.

“Moenie bang wees om te praat en jou gevoelens te deel nie. Dit help nie jy laat toe dat jy ‘verdrink’ nie. Vra vir hulp want iewers sal daar iemand wees wat kan help. As dit nie iemand van jou familie is nie, kan vriende of selfs ‘n vreemdeling kan jou help,” is Relda se boodskap aan ander wat deur moeilike tye gaan of selfs aan depressie ly.

Demetri word op Saterdag 26 Augustus in Oppermans-grond ter ruste gelê. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za