Rowers slaan toe op vulstasies in Welkom en Theunissen

0
842

CHRISTAL-LIZE MULLER

Die polisie in die Vrystaat sê dit is nog onduidelik of twee afsonderlike rooftogte Maandag in Welkom en op Theunissen verband hou en of ‘n sindikaat moontlik betrokke is. Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê vyf gewapende rowers het Maandagoggend omstreeks 01:00 ‘n kitsbank in ‘n winkel by ‘n vulstasie in Welkom opgeblaas. Drie werknemers is aangehou en die rowers het met ‘n onbekende bedrag geld uit die bankteller en die winkel se kasregister gevlug. Hulle het met ‘n wit Nissan-bakkie gery.
 
In die ander voorval het sewe gewapende mans ‘n vulstasie op Theunissen omstreeks 02:00 beroof. Thakeng sê die mans het hul voorgedoen as kliënte in die winkel. Volgens hom het die rowers ‘n wapen op die kassier gerig en geld uit die kasregister geëis. Werknemers en ander kliente se selfone is ook gevat. Thakeng sê ‘n kliënt, wat sy motor met brandstof wou vul, is daarna van sy motor beroof. Die motor is later verlate in Welkom gevind.

Nog niemand is in verband met die afsonderlike rooftogte in hegtenis geneem nie.