Rosestad se Baba Vettel weer oorsee

0
713

GEORG VAN ECK

“Ref die enjin!”

Dit is boodskap van ondersteuning wat die skoolhoof, Lindsay Mould, op sy skoolrapport aan ’n leerling op Grey Kollege gestuur het. Mould het ook toestemming aan die leering verleen om oorsee te gaan omdat die leerling spog met gemiddelde van meer as 70% op dieselfde rapport.

Dit is gepas, want die leerling is die talentvolle rensteljaer, Stuwie White, wat pas 12 jaar oud geword het, het nie net twee nasionale titels verower nie, maar is op pad om weer aan die Junior Wêreldkampioenskappe vandeesmaand in Italië deel te neem.

White is die 2013 Suid-Afrikaanse Minirok kampioenjaer nadat hy die nasionale renstelreeks in Vereeniging beklink het. Vroeër het hy ook die Rotax Max-kampioen geword nadat hy eerste oor die wenstreep in die Maxterion 60 Klas op die Zwartkop-baan in Pretoria gejaag het.

Ná dié prestasies is Italië nie sy enigste oorsese bestemming nie. Die jong Bloemfonteinse renjaer gaan ook in Amerika ’n draai maak. Hy en sy pa, David, besoek ook New Orleans in Louisiana. Hulle sal daar die Amerikaanse junior renstelwedrenne (Rotax Max Challenge Grand Finals) saam met al die Rotax-klaskampioene van Suid-Afrika bywoon.

Ongelukkig sal White nie teen die Amerikaners kan meeding nie, omdat net 13-jariges toegelaat word om daar te jaag. Dit is jammer want die jong White word deesdae “Baba Vettel” na die Duitse F1-wêreldkampioen van die Red Bull-span, Sebastian Vettel, in renstelkringe genoem.

Renstelwedrenne was vroeër as knortjor-wedrenne bekend, maar die vernuftige White jaag in alles behalwe in ’n tjor. Hy is ’n lid van die Blue Label Zanardi Roos Kart-span en ding in ’n blitsige gesofistikeerde renmotortjie in die Maxterino 60 Klas teen knap en ouer teenstanders mee.

Hy kan aanstaande jaar nog in dieselfde afdeling jaag, maar volgens sy pa word beplan om op te skuif na die 125cc Junior Max waar hy teen weer teen ouer jaers sal meeding. “Hy het baie gerek en begin sukkel om in die kleiner motor te pas,” vertel White senior. Die feit dat sy teenstanders ouer is, skrik die rooikop-renjaer nie af nie. Hy het verlede jaar met die Wêreldkampioenskappe in Italië teen ouer teenstanders in die 28ste plek weggespring en uitmuntend gejaag om uiteindelik 13de algeheel teen die beste ter wêreld klaar te maak.

Baie van die 12-jarige se sukses word deur sy ouers aan sy span toegeskryf. Die feit dat hy egter ’n baie sterk ondersteuningspan in sy ouers, David en Jeanne en suster, Andrea het, spoor hom tot groot hoogtes aan
Sy pa, ’n sakeman, was vroeër ’n knap veldwedren-jaer, maar het dit prysgegee om meer aandag aan sy seun se loopbaan te gee.

georg@centralmediagroup.co.za