Rooikappie soos nooit tevore

0
686
‘n Paar lede van die produksie is van links dr. Karen Conradie, Philip Willers, Rozanne Ru Kotzee en Danie Odendaal.

Die klassieke verhale van Rooikappie en Die Drie Varkies sal binnekort een word wanneer dit opgevoer word by The Rabbit Studio.

Hierdie keer egter met ‘n kinkel, wat na bewering die gehoor gaan laat regop sit in afwagting. Die plaaslike produksie kom uit die pen van Xander Steyn, wat aan Bloemfontein Courant vertel het dat The Rabbit Studio gereed staan om die stad te vermaak.

Hierdie jaar se produksie heet “Red Riding Hood & the 3 Little Pigs”, met ‘n verrassingselement. Steyn is welbekend vir die herskryf van ou verhale met talle nuwe karakters en tong-in-die-kies humor wat gehore reeds langer as sewe jaar vermaak.

Steyn het hierdie keer twee sprokies bymekaar gegooi om ’n baie uitsonderlike produksie te skep, met ’n storielyn vir oud en jonk. Red Riding Hood het drie susters: Yellow, Purple en Blue. Red het aggressie-probleme, Yellow is onnatuurlik vriendelik, Purple is baie bitsig terwyl Blue heeltyd hartseer is.

Die drie varkies het uiteenlopende persoonlikhede. Die een is baie slim, die ander baie stadig en die derde is sommer net ’n bedorwe brokkie,” vertel Steyn.

Volgens hom is daar ook twee wolwe in hierdie weergawe en een word deur die talentvolle plaaslike sanger en liedjieskrywer, William Wolf, gespeel. Steyn self speel die rol van storieverteller, ’n groot swart-en-geel by met ’n ‘groot’ houding en hoëhakskoene. “Die vertoning is geskik vir die hele gesin en daar is iets vir almal. Selfs pa sal dit geniet, so kom geniet ’n bietjie lewende teater wat jou na ’n ander wêreld sal vat in hierdie moeilike tyd,” sluit Steyn af.

Daar is een vertoning vir hoërskoolleerders wat plaasvind op 9 Junie 2021 om 19:00, vier vertonings vir volwassenes (Main Shows), wat van 10 tot 12 Junie om 19:00 plaasvind, asook ’n middagvertoning op 12 Junie 2021 om 15:00.

Kaartjies vir die vertonings is beskikbaar by www.phoenixpro.co.za

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za