Rooikappie kom kinders vermaak

0
691
Rooikappie. FOTO: COMMONS.WIKIMEDIA.ORG

Pacofs bied volgende week die ou, nostalgiese verhaal van Rooikappie, wat te doene kry met die skelm ou wolf op pad na haar ouma, na die verhoog.

Die aanbieding is deel van Pacofs se inisiatief om ‘n jonger gehoor na die teater te lok. “Die krag van teater lê in sy inherente vermoë om tegelykertyd te vermaak en op te voed; dit wat ‘n blywende indruk op die gehoor maak, momente met lesse wat baie langer sal voortbestaan as die duur van ‘n produksie.

Ons is ongelooflik opgewonde om Rooikappie by Pacofs aan te bied en sien uit daarna om ‘n prettige ervaring aan kinders, ouers en voogde te bied,” sê Tshegofatso Toolo, Senior Bemarkingsbestuurder van Pacofs.

Die vertoning sentreer om die lewe op die platteland, wat effe vervelig kan raak vir die onverskrokke klein Rooikappie. Nie net is haar ouma haar enigste vriendin nie, maar haar ma waarsku haar konstant om net die paadjie na ouma se huis te volg en glad nie met vreemdelinge te praat wanneer sy by ouma gaan kuier nie. Die kleine Rooikappie se pad kruis dan met die wolf, wat ná maande van ‘n vegetariese dieet so honger soos die spreekwoordelike wolf self is.

Die opvoering wil aan kinders waardevolle lesse oordra; om altyd versigtig te wees in enige omgewing en waarom daar slegte gevolge mag wees as daar met vreemdelinge gepraat word.

Pacofs bied die klassieke verhaal van Rooikappie van 4 tot 6 Maart 2020 in Studio 2 van die Sand du Plessis-kompleks aan.

Die produksie is geskik vir die hele gesin en die perfekte bederf-uitstappie vir kinders van alle ouderdomme. Kaartjies is beskikbaar by Pacofs se besprekingskantoor teen R30 per persoon. Groepbesprekings is ook welkom vir skole, créches en dagsorgsentrums.

Vir navrae kan Tshegofatso Toolo by 051-447-7771 of 072-833-3199 geskakel word, of stuur ‘n e-pos na tshegofatso@pacofs.co.za.

Seithati Semenokane

seithati@centralmediagroup.co.za