Rommel knip dalk vlieëniers se vlerke

0
237
Die Central Radio Flyers-klub in die suide van die Rosestad se bedrywighede word beïnvloed deur onwettige afval wat daar naby gestort word.

Die welbekende klub vir radiobeheerde modelvliegtuie, Central Radio Flyers, het ‘n versoek gerig aan die Mangaung Metro-munisipaliteit om onwettige stortingsterreine in die suide van die stad op te ruim, aangesien dit nie net vir die klub ‘n risiko inhou nie, maar vir almal wat die pad langs die Suidparkbegraafplaas gebruik.

Die voorsitter van die klub, Charl Langerman, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die probleem aan die einde van verlede jaar ontstaan het en mettertyd vererger het. “Mense gooi ons pad toe en begin reeds binne-in ons gebied rommel strooi,” sê Langerman.

Volgens hom het dit nou al so erg geword dat hulle die ingang moes verskuif weg van die stortingsterrein af, wat tot ekstra koste vir klublede gelei het. Die klub het vir jare hulle modelvliegtuie langs die Suidparkbegraafplaas gevlieg.

Langerman vertel hoedat mense al hoe meer afval weggooi. Hulle terrein word ontsier hierdeur en hulle is nie net bekommerd oor die onhigiëniese toestand nie, maar ook oor die risiko van siektes wat dit kan inhou.

Mangaung sê die probleem is dat hulle nie genoeg mannekrag het om die vullis op te ruim nie, of die vragmotors is buite werking, of dan weer die skopgrawe. Ons is al raadop.”

Die klub pleit dat die MMM “net moet doen waarvoor hulle betaal word”. Bloemfontein Courant wag op terugvoer van die MMM.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za