Indien jy reken rolbal in Bloemfontein word slegs vir ontspanning gespeel, dink weer.
Dié sport het in Rosestad-geledere en in die Vrystaat in geheel verskeie spelers wat reeds deur Rolbal Suid-Afrika geïndentifiseer is om moontlik ingesluit te word in wat die land se Rolbalfederasie (BSA) sy Gold Squad noem.
BSA het vanjaar reeds drie van vier sone-rolbalkampe wat die Kaap, KwaZulu-Natal en Vrystaat insluit, gehou. Gauteng kom later aan die beurt.
BSA het ongeveer 12 mans en 12 vrouespelers (verskil van streek tot streek) van elk van die genoemde streke geïdentifiseer om aan die genoemde kampe deel te neem met die uiteindelike doel om die genoemde Gold Squad saam te stel.
Die Vrystaatstreekkamp het die naweek by die Munisipaliteit-bane in Bloemfontein plaasgevind en rolbal van hoogstaande gehalte is opgedis. Twee jongelinge het ook hulle staal getoon by die kamp in Bloemfontein.
Die Suid-Vrystaat se Brendan Bakkes is skaars uit die skool (19 jaar) en dan was daar die nóg jonger 16-jarige Rowan Watkins (Goedemoed) wat die bal by die kamp aan die rol gesit het.
Die spelers van die Vrystaatstreek wat hulle kunsies ten toon gestel het vir ‘n moontlike plek in die genoemde Gold Squad is:
Mans: Dudley Daniëls, Francois Venter, Loffie Cronjé, Allan Breytenbach, Roe Wiid, Vusi Mphale, Arno Greyling en Darryn Stephan.
Vroue: Adri van Niekerk, Natasha Roets, Brunhilde Gerber, Andrea Cloete, Yolanda Watkins, Jennifer McKay, Talia Russon, Gail McKay, Tracey Jacobs, Annelie Mathewson, Helena Hardy en Vicky Slater.