Die R34-pad buite Riebeeckstad in die rigting van Kroonstad in die Vrystaat is gesluit ná ‘n botsing waarin een mens doodgebrand het. Assistent-brandweerhoof van die Matjhabeng-munisipaliteit in Welkom, Francois Klaassen, sê owerhede is op die toneel nadat ‘n vragmotor en ‘n motor om 12:00 sowat 10km buite Riebeeckstad vermoedelik reg van voor gebots en aan die brand geslaan het.
Hy sê die bestuurder in die motor is dood. Die vragmotor het glas vervoer. Die beseerde vragmotorbestuurder is na ‘n nabygeleë hospitaal gebring. Klaassen sê daar is reeds met opruimingswerk begin en owerhede probeer om die vlamme wat na die veld om die toneel versprei het, onder beheer te bring.
Weens die brandende wrakstukke is ‘n alternatiewe roete net voor die ongelukstoneel via ‘n plaas oopgestel. – Christal-Lize Muller