Rockgroep se musiek trots Suid-Afrikaans

0
502
Die akoestiese rockgroep, Concrete Chapel, is van links Trevor Bouwer, Donovan Bouwer. Arno Austin, en Liam Bouwer.

Akoestiese rockgroep, Concrete Chapel, het die afgelope twee jaar drie volledige oorspronklike albums uitgereik en beplan om selfs groter te te gaan.

Die groep is welbekend vir hul maklik luisterbare musiek wat wissel van stadige akoestiese ballades, ligte rock en blues, ‘n bietjie hoër tempo, tot harde rock.

Die Bloemfontein-band is in 2018 gestig en bestaan uit Trevor Bouwer (kitaarspeler en sanger), Liam “Mba Weezi” Bouwer (tromme), Donny “Bails” Bouwer (hoofkitaar, agtergrondsanger en mondfluitjie), en Arno Austin (baskitaar en agtergrondsanger).

Volgens Bouwer is hulle een van die min groepe wat hul albums met oorspronklike musiek 50/50 (in Engels sowel as Afrikaans) verdeel. “Ons musiek is uiteenlopend deurdat dit blues, ballades, folk en rock in albei tale dek. Ons skryf oor die wêreld rondom ons, die dinge wat ons inspireer, en wat ons sien en ervaar in ons lewens en die lewens van ons mede-SuidAfrikaners,” sê Bouwer.

Die groep het hul eerste album, Stained Glass in 2019 vrygestel en hul tweede album, Boemelaar, in 2020. Albei hierdie albums was ‘n mengsel van Engels en Afrikaans. In 2021 is hul derde album, Ek wil sing in Afrikaans, vrygestel, wat hul eerste volledig Afrikaanse album is. Die drie albums is beskikbaar op alle digitale platforms, insluitend Apple Music, Spotify en Youtube. Die groep het ook al saam met legendes soos Koos Kombuis, Karen Zoid en Heuwels Fantasties opgetree.

Die Covid-19-pandemie het miskien hul planne vertraag, maar hulle nie verhinder om hul passie te volg nie. Die groep probeer soveel moontlik reis en speel binnekort (26 Junie) in Rumours Rock City in Johannesburg. Vir meer, volg hulle op Facebook en Instagram @Concrete Chapel.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za