Roberts, Grobbelaar bo in fietsry

0
Roberts, Grobbelaar bo in fietsry

Kate Roberts en Victor Grobbelaar is Saterdag onderskeidelik gekroon as die kampioene in die vroue- en mansafdeling van die 97km-wedren op die gewilde jaarlikse Discovery en Grey Kollege se fietsrybyeenkoms in die Rosestad. Grobbelaar van Newcastle is ’n beroepsryer en het met sowat 22km na die eindpunt weg van die peleton gebreek. Dié waagstuk het dividende betaal, want die peloton kon hom nie weer voor die einde inhaal nie.

Grobbelaar, ’n oud-leerling van Grey, het in 2:17:31 geseëvier en 47 sekondes later het die peloton ingejaag.  Die talentvolle matrikulant en internasionale fietsryer van die Hoërskool Fichardtpark, Daniël Stroebel, het tweede geëindig en nog ’n skolier Tyron Marais (HTS Rustenburg) het derde. Stroebel en Marais het dieselfde tyd (2:18:18) aangeteken. David Walsh en Dirk Maarsingh het as eerste tandem-jaers klaargemaak kort op Stroebel en Marais se hakke. Roberts, wat Suid-Afrika twee keer op Olimpiese-spele (Beijing, 2008 en Londen, 2012) in driekamp verteenwoordig het, het die vroue-afdeling in ’n haastige 2:40:48 gewen. Sy is gevolg deur nog ’n Bloemfonteinse driekampatleet, Nelmarie Loubser (2:59:24), met Kirstin Jacobs derde in 3:02:58. Drie Bloemfonteiners op die podium.

Hoërskool Fichardtpark het gewys dat Daniël Stroebel nie hul enigste leerling is wat ’n fiets se speke kan laat sing nie en het in die 60km-wedren die eerste en derde plekke gevul. Damien Oosthuizen het dié afdeling gerieflik gewen en is gevolg deur ’n besoeker van Kimberley, Maurice Moller (Hoërskool Noord-Kaap) met Waylin Young in die derde plek. In die 60km vir vroue het Terri-Jo Leyland (Eunice, 1:37:32) gevolg deur Debra Theron en Charise Bezuidenhout (Jim Fouché).

No posts to display